Ockert Strydom (38) is al van kinderdae af ’n kranige gholfspeler en het reeds op vierjarige ouderdom saam met sy pa, Ockert sr., vele ure op die gholfbaan deurgebring.
Ockert het op Worcester grootgeword en is ’n oud-leerder van die Hoërskool Montana. Tans is Ockert in Doebai waar hy aan die Europese golfreeks deelneem “saam met van die wêreld se topspelers, soos Rory McIlroy en Ernie Els”, sê sy pa telefonies aan Worcester Standard.
“Ockie het nog altyd net belang gestel in gholf en kon van baie jongs af al ’n gholfbal met mening slaan.”
Ockert het tydens sy skoolloopbaan 19 junior gholf-opes gewen en 27 senior opes, en het reeds vroeg besluit dat die gholfbaan eendag sy “werkplek” sal wees.
Vandag speel dié Worcesteriet oor die wêreld heen gholf op van die heel bekendste bane en word sy droom verwesenlik.
Die mees onlangse toernooi waarin Ockie uitgeblink het, is die Sonskyntoernooi wat in Desember 2022 plaasgevind het en waar hy eerste plek behaal het en gekies is om deel te neem aan die Europese Ope in Doebai, sê sy pa.
Vandag (19 Januarie) speel Ockert die eerste van vier wedstryde in die Europese Ope, waarna hy na Singapoer sal reis vir ’n addisionele wedstryd as deel van DP-wêreldtoer-kriekettoernooi.
“Ockert bly in hierdie stadium positief, en oefen nog die heeltyd vandat hy in Doebai is,” volgens Ockert sr.
Ockert woon tans in Gauteng met sy vrou en kinders en speel onder leiding van die beroemde afrigter Doug Woods.





