Die Hoërskool Gimnasium in Worcester pronk met twee topmatrikulante wat albei dieselfde gemiddelde in 2022 se matriekeindeksamen behaal het.
Karl Johann Klüsmann (18) en Nadia Botha (18) het albei ’n gemiddelde van 94% en elk sewe onderskeidings in hul onderskeie vakke behaal.
Klüsmann het onderskeidings behaal in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, lewenswetenskappe, rekenaartoepassingstegnologie en IT. Botha het ook haar onderskeidings in Afrikaans, Engels, lewensoriëntering en wiskunde behaal, en ook onderskeidings in fisiese wetenskappe, geskiedenis en gasvryheidstudies.
Albei hierdie matrikulante is voornemende studente aan die US. Albei is dankbaar vir hul uitslae en vertel aan Standard dat al hul verwagtinge oortref is.
“Dit was ’n uitdaging om die werk in te haal wat weens Covid-19 uit die sillabus gelaat is, maar met die hulp van ons onderwysers het ek dit sonder te veel stres reggekry,” vertel Botha.
Klüsmann vertel dat die einde van verlede jaar tot die aanloop na die eksamen vir hom die stresvolste was, maar hy is nou opgewonde vir sy verdere studies. Hy gaan datawetenskappe studeer, terwyl Botha ’n BA-regsgraad gaan aanpak.
Albei hierdie matrikulante was ook kranige hokkiespelers vir hul skool en terwyl Klüsmann in die leerlingraad gedien het, was Botha ook die skool se onderhoofmeisie.





