Die verdagte wat die agtjarige Kieran Swanepoel met ’n gholfstok geslaan het, verskyn op 23 Mei in die hof.
Standard het twee weke gelede berig (“Skedelbreuk ná hou met gholfstok”) oor ’n agtjarige seuntjie met Down-sindroom wat Donderdag 21 April – ’n dag ná sy verjaardag – in wat net as ’n kwaadwillige en sinnelose voorval beskryf kan word, met ’n gholfstok teen die kop geslaan is. Kieran het skedelbreuk en bloeding op die brein in die aanval opgedoen.
Kieran se ouers was omgekrap omdat die verdagte egter dieselfde dag as wat hy aangekeer is, vrygelaat is.
AO Vathiswa Jacobs het bevestig dat die verdagte vrygelaat is.
“Volgens die ondersoekbeampte is die verdagte op dieselfde dag van die voorval in hegtenis geneem, aangekla en op waarskuwing vrygelaat om op 23 Mei te verskyn,” sê Jacobs.
’n Saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer en kwaadwillige saakbeskadiging word tans ondersoek.
Jacobs sê daar is egter konsultasie tussen die ondersoekbeampte en die senior staatsaanklaer om te kyk na die moontlikheid om die aanranding-aanklag weens die omvang van die besering na een van poging tot moord te verander.
“Getuieverklarings is verkry. Nog een getuieverklaring moet nog bekom word, en ons wag nog vir die mediese verslag.
“Alles sal beskikbaar wees teen die volgende hofdatum,” sê sy.
Fabian Swanepoel, Kieran se pa, sê die speurder in die saak hou hulle op hoogte van die ondersoek.
Hy sê hulle sal Maandag 23 Maart saam met Kieran in die hof wees.




