Wyle “Juffrou” Linda Krieger.Foto:


’n Baie gewilde en bekende oud-opvoeder van die Hoërskool Breërivier, die 67-jarige Philida Elizabeth Cloete, in opvoederskringe bekend as Juffrou Krieger, is verlede Woensdag ná ’n siekte van ’n paar maande in haar huis in Hartwiglaan oorlede.

Linda, soos sy alom bekend was, was die derde oudste kind (en oudste dogter) van wyle Japie en Elizabeth (Liz) Krieger. Sy het haar laerskool-opleiding aan die bekende NGK Oefenskool ondergaan, waar haar pa ’n geliefde opvoeder was. Sy het in 1974 aan Esselenpark Sekondêr matrikuleer en haar tersiêre opleiding aan die destydse Pentech (deesdae bekend as KSUT) begin, waar haar spesialisrigting tik en verwante vakke was.

Sy het haar onderwysloopbaan in 1978 by die Hoërskool Breërivier (HB) begin en was haar hele onderwysloopbaan daar totdat sy aan die einde van 2011 met vervroegde pensioen afgetree het.

Hoe gewild dié onnie wel was, blyk uit die letterlik honderde boodskappe via sosiale media wat haar deugde besing en vertel watter omgee-mens sy was.

Sy was voorwaar ’n mense-mens en volgens van haar oud-kollegas by HB kan hulle nie aan een geval dink waar Juffrou Krieger iets leliks van iemand kwytgeraak het nie. Sy het voorwaar die ekstra myl met haar leerders gestap en toegesien dat hulle goed voorbereid was vir die dag wanneer hulle die skool verlaat – veral later toe die vak tik omgeskakel is na rekenaartoepassingstegnologie (RTT) en sy ekstra moeite gedoen het dat veral leerders wat ná matriek nie verder gaan studeer het nie, ten minste rekenaarvaardig was.

Juffrou Krieger was baie lief vir veral rugby en gegewe die feit dat haar familie stoere Worcester-Villagers-mense was, was sy ook tereg ’n gedugte Villa-ondersteuner. Daarby was sy ook ’n vurige ondersteuner van die Wallabies.

Sy was ook aktief betrokke by kerksake en het lank in die kerkkoor van die VGK Worcester-Oos gesing. Sy is later as lidmaat van die Calvyns Protestante Kerk opgeneem. Hier het sy onmiddellik ook by hul kerkkoor aangesluit en was sedert 2013 ook die kassier van dié gemeente.

Juffrou Krieger, wat haar broer Johnny (ook ’n oud-kollega van haar) en haar suster Sandra agterlaat, word Saterdag 21 Oktober vanuit die Calvyns Protestante kerk in Leopoldtlaan begrawe. Besigtiging sal van 09:00 geskied met die diens om 10:00.

’n Roudiens is gisteraand (Woensdag) om 19:00 by dieselfde kerk gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article