Minstens vier mense is die afgelope feestyd in gewelddadige voorvalle in die vallei dood.

In die eerste voorval, op 21 Desember, is Mlamli Mangwane (49) om 17:15 in Zweletemba vermoor.

“Die oorledene en sy twee broers, onderskeidelik 41 en 51 jaar oud, het in Yabostraat aangekom toe een van die broers vir iets vra om te eet. Die oorledene het toe pap en vleis vir hulle voorberei.

“Toe hy die kos vir sy oudste broer gee, het die jonger broer glo kwaad geword. Die twee broers het toe met die oorledene begin baklei en later het die oudste broer die oorledene se hande agter sy rug vasgehou terwyl die jonger broer hom met ’n mes aan die linkerkant van sy bors gesteek het,” verduidelik die Worcester-polisie se woordvoerder, AO Vathiswa Jacobs.

Die oorledene het op die grond neergesak en is later deur paramedici op die toneel dood verklaar. Die twee broers is in hegtenis geneem en het op 23 Desember die eerste keer in die hof verskyn, en toe weer op 28 Desember. Hul volgende verskyning sal op Maandag 13 Februarie wees. . ’n Tienerseun is omstreeks 16:00 op Kersdag in die been geskiet.

“Hy het ten tyde van die voorval voor Moira-huis op die hoek van Hartwiglaan en Stynderstraat gestaan. Hy is na die hospitaal gehaas, waar medici na sy wond omgesien het. Die skieter is onbekend en die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord.”. Die polisie het ure later, Maandag 26 Desember om 01:28, ’n oproep van Worcester-hospitaal ontvang oor ’n slagoffer van ’n steekvoorval, wat aan sy wonde beswyk het.

“Hulle het die polisie in kennis gestel dat ’n 22-jarige man as gevolg van ’n steekwond aan die linkerkant van sy bors gesterf het. Die oorledene, Grayton Jaarts, is met private vervoer na die hospitaal geneem.”

Twee verdagtes is in verband met hierdie voorval in hegtenis geneem. Die verdagtes, ’n 14-jarige en ’n 22-jarige, het op 29 Desember in die Worcester-landdroshof verskyn.

Gerugte doen die ronde dat die 25ste en 26ste se voorvalle met mekaar verband hou en dit moontlik bendeverwant is. Volgens ’n betroubare bron was Jaarts die slagoffer van wraak wat deur ’n ander bende geneem is oor die skietery wat Kersdag plaasgevind het. Die polisie het hierdie gerugte aan Standard bevestig. .Twee mense is Saterdag 31 Desember in afsonderlike voorvalle doodgeskiet.

“Die polisie het op 31 Desember om 18:00 ’n oproep ontvang oor ’n skietery in Kolgansstraat in Avianpark. Met hul aankoms op die toneel het hulle drie slagoffers wat geskiet is, aangetref,” verduidelik Jacobs.

Twee 38-jarige mans en ’n 63-jarige man was die slagoffers in die skietvoorval.

“Die een 38-jarige is in die kop geskiet en is op die toneel dood. Die ander 38-jarige is in die rug geskiet en die 63-jarige man het skietwonde aan sy linkerhand en boud opgedoen.”

Verder verduidelik sy volgens die oorlewende slagoffers was daar ’n klipgooiery tussen twee mededingende bendes, naamlik die JCY’s en Uitbyters.

“Dit het toe tot die oor-en-weer-skietery gelei.”

Terwyl die polisie nog op die toneel besig was, het ’n klagte deurgekom van twee slagoffers met skietwonde in Worcester-hospitaal.

“By die hospitaal het hulle ’n pa en seun met skietwonde aangetref. Die seun, ’n 26-jarige man, is in die kop geskiet en het aan sy wond beswyk. Die ouer man is deur sy wang geskiet.”

Die pa en seun het glo verby die skietery in Kolgansstraat gery.

“Hy het toe iets aan sy gesig gevoel en na sy seun gekyk. Hy het bloed gesien en onmiddellik na die hospitaal gery waar die seun, Waseem Wiese, aan sy kopwond beswyk het.”

Twee sake van moord en drie van poging tot moord word ondersoek en vier verdagtes – twee 26-jariges, ’n 24-jarige en ’n 20-jarige – is aangekeer. Hulle het Dinsdag in die hof verskyn. . In nog ’n voorval in Kolgansstraat het ’n skieter op tieners losgebrand.

“Twee 25-jarige mans is op 3 Januarie om 00:19 verskeie kere gewond toe ’n iemand uit ’n wit voertuig geklim en op die twee begin skiet het. Die een seun is agter die regterskouer gewond en die ander een is in die regterbeen getref.

Niemand is nog in verband met hierdie voorval in hegtenis geneem nie en die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article