Een vermeende rower is Maandagoggend in ’n wilde skietery in Reitzstraat, Robertson, dood en drie mense is gewond.
Volgens die Robertson-polisie het die voorval omstreeks 10:30 by die Jian Fu Trading winkel gebeur.
“Vier rowers het tydens ’n gewapende aanval op die eienaar van die winkel en sy skoonseun geskiet.
“ ’n Lid van die publiek het die skote gehoor en ondersoek gaan instel.
“Met sy aankoms op die toneel het een van die verdagtes sy vuurwapen op die lid van die publiek gerig, maar hy het egter ook ’n vuurwapen gehad en op die rowers begin skiet.”
Twee rowers is getref – een is gewond terwyl ’n tweede op die toneel aan sy wonde beswyk het.
“Die twee ander rowers het in ’n goud-kleurige Toyota Etios probeer wegkom, maar is kort daarna in Voortrekkerstraat deur die polisie vasgetrek en in hegtenis geneem,” het die woordvoerder aan Gazette verduidelik.
Die eienaar van die winkel en sy skoonseun is hospitaal toe geneem vir behandeling.
Volgens die woordvoerder is hulle nie ernstig beseer nie.




