Die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) het die langsdienende hoof van die Worcester-mansgevangenis nóg op 31 Desember 2021 gegroet.
Robert John Stemmet – of Bobby Stemmet, soos almal hom ken – het die DKD verlaat ná ’n dienstydperk van 40 jaar en een maand.
Hy het vir 20 jaar en 11 maande as hoof van die mansgevangenis diens gedoen – sedert 5 Februarie 2001. Hierdie mylpaal kon geen van sy voorgangers bereik nie.
Stemmet sê hy gaan die mense saam met wie hy gewerk het, baie mis.
Hy sê hy wil graag die gemeenskap van Worcester, sowel as mense van ander staatsdepartemente met wie hy nou saamgewerk het, bedank vir die goeie verhoudings wat oor die jare gehandhaaf is, en ook dat een gemeenskaplike doel bereik is: Om te alle tye dienste aan die publiek te lewer.
Stemmet sê dit voel in hierdie stadium nog asof hy net met verlof is. Hy sê hy wil baie graag weer betrokke raak by die gemeenskap om mense te help.
Dié 59-jarige het op 30 November 1981 by die destydse Gevangenisdiens in Worcester aangesluit.
Gedurende sy 40 jaar diens was Stemmet gestasioneer in Worcester, Brandvlei en Helderstroom, waar hy verskeie poste beklee het.
Hy was al werwingsklerk, personeelklerk, opleidingsbeampte, hoof van gemeenskaps-korreksies, afdelingshoof van gevangenis-administrasie, afdelingshoof van operasionele bestuur, assistenthoof van die gevangenis en laastens – tot nou – die hoof van die gevangenis.
Hy het ook by verskeie geleenthede as areakommissaris waargeneem.
Gedurende sy loopbaan het hy hom onderskei as een van die voorste departementele ondersoekbeamptes en het hy ook op provinsiale en nasionale vlak ondersoeke gedoen.
Hy was onder andere die spanleier wat die massa-ontsnapping van gevangenes in 2020 by die Malmesbury-gevangenis ondersoek het. Hierdie was die grootste ontsnapping in die geskiedenis van die departement korrektiewe dienste asook in Afrika. In dié geval is hy deur die nasionale kommissaris van korrektiewe dienste as die leier van die ondersoekspan aangestel.
Een van die uitstaande kenmerke van sy ondersoekwerk was sy eerlikheid en opregtheid, en hy het nie doekies omgedraai om bevindings bekend te maak nie, al was dit tot nadeel van die departement.
In sy tydperk as hoof van die gevangenis het hy ’n aktiewe rol in die gemeenskap van Worcester gespeel. Hy was onder meer ’n bestuurslid van Boland-hospies en ook van Huis Andries Hamman, tehuis vir bejaardes.
Vir hom was een van sy loopbaan-hoogtepunte toe hy in 2013 by die versoeningsproses tussen Stefaans Coetzee en die slagoffers van die bomontploffing by Shoprite in Worcester in 1996 betrokke was. Vir die hantering van dié versoeningsproses het Stemmet in 2013 die Peace Award van die Worcester Hope and Reconciliation Process ontvang.
As voorbeeld van sy passie vir rehabilitasie van gevangenes het hy ’n groep gevangenes in Worcester onder sy leiding geneem. Hierdie groep het hulle die afgelope aantal jare vir hul betrokkenheid binne die gemeenskap onderskei.
Die Group of Hope-projek is enig is sy soort in Suid-Afrika se gevangenisse en wat hierdie program so uitsonderlik maak, is dat dit ’n gevangene-geïnisieerde projek is.
Tydens sy loopbaan by korrektiewe dienste was dit egter nie net maanskyn en rose nie. Hy het talle traumatiese gebeure deurgemaak, waaronder selfdoodgevalle van personeel en gevangenes, moorde deur gevangenes, ontsnappings, onluste deur gevangenes en selfs brandstigting.


