‘n Vrou van De Doorns lewe in vrees nadat ‘n bejaarde man wat haar as ‘n kaper aangesien het, ‘n skoot afgevuur het op die motor waarin sy en haar twee minderjarige dogters gereis het.Foto: Ter illustrasie


’n Ma van De Doorns is steeds getraumatiseer nadat ’n bejaarde man, wat haar glo vir ’n kaper aangesien het, ’n vuurwapen uitgepluk en ’n skoot op die motor waarin sy en haar twee minderjarige dogters gereis het, afgevuur het.

Die voorval het Lizaan Windell (40) en haar gesin so getraumatiseer dat hulle tans berading ontvang.

Volgens Windell het die voorval Donderdagmiddag (24 Oktober) omstreeks 17:30 op die N1 naby De Doorns plaasgevind toe sy en haar twee kinders van onderskeidelik 14 en 10 jaar oud, uit Worcester op pad was terug na hul woning in De Doorns.

“Net so voor die De Wet-kelder het ’n wit Ford-bakkie en vragmotor voor my gery. My kinders het op die agtersitplek gesit.

“Toe ek na die regterbaan beweeg om die bakkie en vragmotor verby te steek, het die bestuurder van die bakkie skielik voor my inbeweeg.”

Volgens Windell het sy op haar toeter gedruk omdat die bestuurder van die bakkie nie sy rigtingaanwyser aangeskakel het nie.

Sy sê sy en die bakkie het toe albei die vragmotor verbygesteek. Volgens haar het sy steeds agter die bakkie gery.

“Terwyl ek besig was om die bakkie net voor die Zeekoegat-padstal verby te steek, het ek in die rigting van die bestuurder gekyk.

“Sy venster was afgedraai en hy het ’n vuurwapen in sy hand gehad. Ek het die oom so in sy gesig gekyk.

“Toe ek die vuurwapen sien, het ek kop gehou en net aanhou ry. Hy het die vuurwapen op my en my kinders gerig en ’n skoot afgevuur. Hy het niks gesê nadat hy die skoot afgevuur het nie.

“Toe die skoot afgaan, het ek dadelik vir my kinders gevra of hulle oukei is.”

Windell sê in daardie stadium was sy onder die indruk die koeël het haar motor getref.

“My kinders was heel rustig. My oudste dogter het vir haar sussie gesê ‘jy kyk nie om nie, jy gaan nie huil nie’.

“Die koeël kon my of een van die kinders getref het. Ek kon beheer oor my motor verloor het toe ek die skoot hoor afgaan. My motor kon gerol het. Ons kon dood gewees het.

“Ek is toe uiteindelik verby hom.

“Nadat hy op ons geskiet het, het hy die heeltyd rustig agter my bly ry.”

Windell sê sy het onmiddellik haar man, James, gebel en hom vertel van die skietvoorval. Hy het toe laat weet hy is op pad.

Volgens Windell is sy die moderator van die De Doorns-Wes WhatsApp-groep. Sy het dadelik ’n stemnota vir die groep gestuur waarin sy hulle inlig dat iemand pas op haar en haar kinders geskiet het.

Sy sê sy het ’n gedetailleerde beskrywing van die bakkie vir die groeplede deurgegee. Volgens haar is die plaaswag, sekuriteitsmaatskappye en nog ander veiligheidsdienste ook op die betrokke groep.

“Almal weet toe ek is in gevaar en het hulp nodig. Ek het verskriklik baie gebewe.”

Windell sê net ná die Orchard-afdraai, toe kom die eerste sekuriteitsvoertuig uit die teenoorgestelde rigting aangery.

Volgens haar het sy haar motor se ligte vir die voertuig geflits.

Windell sê ’n beampte van Hexvallei Sekuriteit het die bakkie tot stilstand gedwing. Sy sê sy het ’n entjie verder weg van die toneel stilgehou.

Nog hulp, onder wie haar man en broer, het intussen by die toneel opgedaag. Volgens Windell is die bestuurder van die bakkie na die polisiekantoor in De Doorns begelei waar hy toe later in hegtenis geneem is.

“Dit gaan my maande, jare neem om hieroor te kom. Ek slaap baie sleg. As ek 40 minute slaap, is dit baie. Wanneer ek my oë toemaak, herleef ek als weer.

“Ek is sedertdien baie paranoïes op daai pad, en veral wanneer ek ’n voertuig verbysteek, is ek bang. Ek huil die heeltyd. Ek weet nie of my kinders dalk later uitbarstings gaan hê nie, want dit is alles nog baie vars.

Standard Breederivier Gazette verneem ’n 73-jarige man het Maandag (28 Oktober) in verband met die skietvoorval in die Worcester-landdroshof verskyn. Hy is op borgtog vrygelaat en moet op 7 November weer in die landdroshof verskyn.

Teen druktyd het Worcester-polisie nog nie op navrae hieroor beantwoord nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article