Swangerskap en die geboorte van ’n baba is ’n grootse gebeurtenis, en die eerste vraag van die moeder is gewoonlik of die baba normaal en gesond is.
Kort ná geboorte begin ’n baba die onmiddellike omgewing deur middel van sintuie ervaar – liefdevolle aanraking van die moeder tesame met tas, reuk, smaak, klanke, kleure en lig. Al hierdie sintuiglike ervarings dra by tot die baba se kognitiewe en sosio-emosionele ontwikkeling.
Die twee belangrike sensoriese sintuie van gehoor en sig word vroeg reeds ingespan om die moeder se stem te hoor en haar gesig te verken of te sien. Die baba ervaar sodoende sintuiglike stimulasie wat geleidelik die brein help om woorde en klanke te herken en te assosieer. Met die oë word alles waargeneem en nuuskierigheid geprikkel deur aan goeters te wil vat en met hande en mond te ondersoek. Sodoende leer ’n baba ’n wonderlike wêreld verken deur middel van gehoor, proe, sig, reuk en aanraking.
Wanneer ’n baba sonder die twee sensoriese sintuie – sig en gehoor – gebore word of selfs met beperkte sig en/of gehoor, is dit belangrik dat hierdie beperkings so spoedig moontlik opgespoor en behandel moet word, soos ’n baba wat byvoorbeeld nie op klank of lig reageer nie. Met ’n mediese ondersoek kort ná geboorte of ten minste binne die eerste ses maande kan sodanige tekortkominge vroegtydig gediagnoseer word. Afhangend van die graad van sig- en/of gehoorverlies is spesifieke programme beskikbaar en noodsaaklik om die baba in daardie uiters belangrike ontwikkelingstydperk van geboorte tot ses jaar te ondersteun.
Wanneer ouers bewus is van moontlike tekortkominge by ’n kind, kan die roete om dit te behandel soveel gemakliker gevind word.
Ten einde die mees geskikte ondersteuning te ontvang, is dit nodig dat ’n Dowe of hardhorende kind deur oudiologietoetse geëvalueer word vir moontlike gehoorapparate of selfs koglêere implantate. Die brein word met genoemde ingryping vroegtydig gestimuleer om klanke en woorde te identifiseer. Taalontwikkeling vind plaas gedurende die eerste twee jaar van ’n kind se lewe. Dowe kinders het reeds hiermee ’n agterstand en kan selfs later spraakterapie benodig. Volledig Dowe kinders kan deur middel van gebaretaal begin kommunikeer vir die ontwikkeling van taalstruktuur. Ouers van Dowe kinders kan tydens hierdie fase ook baat vind deur basiese gebaretaal aan te leer.
Vir ’n Blinde of siggestremde kind is dit insgelyks noodsaaklik om vroegtydig deur middel van oogkundige evaluasie te bepaal tot watter mate visuele ondersteuning benodig word. Vir volledig blinde kinders is vroeë ruimtelike oriëntasie en bewegingstimulasie uiters belangrik ten einde die brein se ruimtelike persepsie te help ontwikkel. Ruimtelike persepsie word gewoonlik deur middel van visuele waarneming ontwikkel.
Dit is vir geen ouer of gestremde kind nodig om die lewenspad alleen aan te durf nie.
Vroeë diagnose van sig- en/of gehoorverlies by die baba en jong kind, asook moontlike vroeë intervensie is egter van kardinale belang vir maksimale ontwikkeling.
Talle ondersteuningsprogramme en hulpmiddels is beskikbaar.


