Die paneel by die KWDM se Robertson-inligtingsessie is van links: Attie Butler, uitvoerende hoof van Ignite Advisory

“Dit is met trots dat ek julle almal verwelkom by een aspek van ons uitgebreide openbaredeelnameproses in hierdie wonderlike deel van ons Kaapse Wynland-distrik,” het die uitvoerende burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), Elna von Schlicht, gesê in haar openingstoespraak by die tweede van twee openbare byeenkomste wat op Maandag 18 Maart in Drakenstein gehou is.

“Die KWDM erken die waarde wat deur samewerking en vennootskap tot ekonomiese groei en volhoubare ontwikkeling bygedra word. Sukses is soveel meer bereikbaar wanneer vennootskappe bestaan,” het Von Schlicht aangemoedig.

Die burgemeester het tydens hierdie gesprekke verskeie prestasies van die KWDM oor die afgelope boekjaar uiteengesit, insluitend die toekenning van ’n 10de skoon oudit en ’n eerste plek op die ranglys van die Governance Performance Index.

Die eerste van die twee geleenthede is op Dinsdag 5 Maart in Robertson gehou. Die paneel vir die eerste gebeurtenis, wat deur die radiopersoonlikheid Jeremy Harris gefasiliteer is, het bestaan uit Alan Winde, die premier van die Wes-Kaap; Von Schlicht; asook Wrenelle Stander, die uitvoerende hoof van Wesgro; Nigel Jacobs, die uitvoerende hoof van die plaaslike KMMO Jacobs Jam, en Attie Butler van Ignite Advisors.

Die LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, het as hoofspreker by die tweede sessie aangesluit. Die minister het verwys na talle gebiede waarop sukses behaal is, en het gesê “sukses kweek vennootskappe; mense wil deel wees van sukses! Wanneer ons suksesvolle projekte lewer, kan beleggers seker voel hul belegging is veilig”.

Hy het veral melding gemaak van die KWDM/Santam-vennootskap wat onder meer daartoe gelei het dat duisende rookverklikkers versprei en in informele wonings geïnstalleer is.

“Tot op hede is nie een lewe verloor weens ’n brand in ’n huis wat ’n rookverklikker het nie,” het die LUR gesê.

Die minister en die burgemeester is op die tweede paneel vergesel van Sibylle Pfeiffer, portefeuljebestuurder in die distrikseenheid van Wesgro; Neptal Khoza, hoof van markontwikkeling by Santam se KSB-eenheid; en Enrico Cupido, besturende direkteur van EJC Consulting.

Waardevolle insigte en perspektiewe is tydens dié twee geleenthede gedeel en lewendige gesprekke is gevoer met die V&A-sessies, wat onderwerpe soos ontwikkeling, padverbeterings en toekomstige projekte ingesluit het.

“Byeenkomste soos hierdie is uiters belangrik aangesien die munisipaliteit daarna streef om samewerking en vennootskappe met belanghebbendes aan te moedig, te dryf en te verbeter.

“Dit is deur openbare deelname, vennootskappe en innovasie dat ekonomiese groei ’n werklikheid kan word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article