John Peter Vermeulen (61) is verlede week ná ’n aggressiewe tweede hartaanval oorlede.

Credit: SYSTEM

’n Gesin van Worcester wat hul pa weens ’n hartaanval aan die dood afgestaan het, is ontevrede nadat hulle bykans na bewering ’n uur op ’n ambulans moes wag om hom te hulp te snel.

John Peter Vermeulen (61), ’n inwoner van die dorp, het Donderdagaand 19 Januarie omstreeks 22:45 ’n massiewe hartaanval tuis gehad.

Sy gesin het dadelik die ER24-ambulansdienste geskakel en gehoop paramedici sal spoedig reageer. Dit was egter nie die geval nie.

“Ons het omstreeks 22:50 die noodnommer gebel en mag volgens die siekefonds slegs van ER24 se dienste gebruik maak. Ek het met die inbelsentrum gepraat en hulle het vir ons toe twee SMS-boodskappe gestuur met ’n verwysingsnommer. Ons moes hulle ’n hele paar keer skakel en het op ’n tydstip gedink hulle gaan nie meer kom nie,” vertel Vermeulen se dogter, Enid Theron, aan Standard.

Theron sê sy het haar pa nog nooit in so ’n toestand gesien nie en het besef dit is ’n saak van lewe of dood. Intussen het ’n familielid wat met noodhulp gemoeid is hom probeer stabiliseer.

Sy het ’n paar keer weer die ambulansdienste geskakel om uit te vind waar hulle is.

Die inbelsentrum het haar bykans ’n halfuur later weer gebel en gesê hulle sukkel om die adres in Worcester-Wes op te spoor.

“Ons het gewag en gewag en is lank ná die eerste oproep eers gehelp. Ons is toe ingelig dat die paramedici aan diens by hul huise was en eers moes aantrek en voorberei vir die noodgeval. Die ambulansbestuurder moes toe ook eers ’n kollega aan die ander kant van die dorp gaan haal aangesien hulle blykbaar nie ’n kantoor in die omgewing het nie. Daarna het hulle boonop om die huis te kry. Ons is toe uiteindelik ná al daardie gewag gehelp.”

Theron sê die paramedici op die toneel het hulle wel baie vriendelik en professioneel behandel, maar dit is skokkend dat hulle so lank moes wag.

“Die gewag het soos ’n ewigheid gevoel – veral in so ’n groot noodgeval. Hoe betaal ’n mens vir só ’n diens by ’n private instansie en jy moet so lank wag om noodhulp te kry?”

Vermeulen is na die hospitaal geneem waar hy vir ’n paar dae in die waakeenheid was, en is toe na ’n hospitaal in Kaapstad oorgeplaas.

Hy is egter Woensdagoggend (25 Januarie) oorlede nadat hy weer ’n aggressiewe hartaanval gehad het.

Sy gesin was verpletter ná die nuus van sy afsterwe.

Standard het na ER24 se woordvoerder, Russel Meiring, uitgereik vir kommentaar oor die voorval.

“Ons beskou sake soos hierdie in ’n baie ernstige lig. Ons het ’n dringende interne ondersoek van stapel gestuur om te help met die verskaffing van akkurate terugvoer. Dit is ook belangrik om daarop te let dat verskeie faktore die reaksietye van noodvoertuie kan beïnvloed, insluitend die tyd, ligging van die noodgeval, verkeer, akkuraatheid van besonderhede, ensovoorts,” het Meiring verduidelik.

Hy het bevestig dat ER24 wel ’n tak in die Worcester-omgewing het.

“Die ER24-tak in Worcester word gedurende spitstye van 07:00 tot 19:00 van die basis af beman, waarna spanne van hul wonings af reageer. Dit het egter geen impak op reaksietye vir noodgevalle nie.”

Volgens Meiring het die ambulans omstreeks 23:18 op die toneel aangekom. Die familie meen dit was egter heelwat later.

’n Ander plaaslike ambulansdiens in die vallei meen egter dat reaksietyd, veral in ’n dorpsgebied, nie langer as 15 minute moet wees nie aangesien dit waarskynlik die verskil tussen lewe of dood kan bepaal.

Die gesin het die afgelope naweek van hul pa afskeid geneem.

“Ons gaan hom vreeslik mis. Hy was ons rots, maar het ook altyd gereed gestaan met ’n grappie. Hy was baie lief vir ons – veral vir sy kleinseun,”

“Hy het ’n groot impak op elkeen van ons se lewe gehad, en sy stem is nou stil. Sy goedhartigheid sal ons altyd bybly. Hy kon enigeen met wie hy in aanraking gekom het soos ’n familielid laat voel,” sluit Theron af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article