In ’n dramatiese voorval op ’n Vrydagaand laat in Robertson is een man ná ’n gyselaarsdrama in hegtenis geneem.
Die voorval het op 5 Julie omstreeks 23:00 plaasgevind toe twee rowers ’n gesin in hul huis gyselaar gehou en hul voertuig, ’n wit VW Polo, gesteel het.
Volgens ’n woordvoerder van die Robertson-polisie het die verdagtes in die gesteelde voertuig van die toneel af gevlug.
Die voertuig is later op die Worcesterpad gevind nadat dit in ’n ongeluk betrokke was.
Twee verdagtes het van die ongelukstoneel af gevlug. Een van hulle is betrap en in hegtenis geneem.
Dit is in hierdie stadium onbekend waar presies in Robertson die voorval plaasgevind het. Die polisie het ook nie bekendgemaak of enige van die gyselaars enige beserings tydens die aanval opgedoen het nie.
’n Onkreukbare bron het egter gesê ’n gesin van drie was die slagoffers in hierdie drama.
“Dit was baie lelik. Hulle het al gelê toe die rowers toegang tot hul huis verkry het. Hulle babadogtertjie was ook in die huis en sy is siek. Dit was dus ’n baie traumatiese ondervinding vir die gesin,” het die bron gesê.
Die bron verduidelik verder die rowers het een van die huis se deure afgetrap en die paartjie is vasgemaak.
Volgens die woordvoerder van die Robertson-polisie is ’n klagte ná die ongeluk by die Worcester-polisie aangemeld, maar die besonderhede rakende die presiese plek van die botsing op die Worcester/Robertsonpad bly onduidelik.
AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie, het egter gesê hulle het geen rekord van so ’n voorval op hul stelsel nie.
“In sulke situasies word daar gewoonlik ’n klagte van roekelose en nalatige bestuur of die besit van gesteelde goedere ondersoek, maar geen sulke aantekeninge vir 5 of 6 Julie kon opgespoor word nie,” sê sy.
Die gemeenskap van Robertson is geskok deur die voorval, en verdere ondersoeke is wel aan die gang om die ander verdagte op te spoor.




