Hildegard Serfontein is op haar 103de verjaarsdag met ’n verjaarsdagtee by die La Gratitude-aftreeoord in Durbanville verras. Nicky Faro (agter), bestuurder by die Palm Grove Spar in Durbanville, het ’n besondere verjaardagkoek vir die geleentheid geskenk. By Serfontein is twee van haar drie seuns, Fritz Ferreira (links) van Somerset-Wes en dr. Johann Ferreira (regs) van die Vrystaat.FOTO: Esmé Erasmus


Sy het die Here al gevra wat Sy plan is met haar dat sy só oud word, het ’n inwoner van die La Gratitude-aftreeoord in Durbanville verlede maand gesê met die viering van haar 103de verjaarsdag by die aftreeoord.

Hildegard Serfontein is in 1920 – twee jaar ná die einde van die Eerste Wêreldoorlog en die Groot Griep (Spaanse griep) – in Tulbagh gebore en het daarna nie net die Tweede Wêreldoorlog, die Tulbagh-aardbewing in 1969 en die Covid-19-pandemie in haar 100ste jaar in 2020 oorleef nie, maar lyk boonop nie ’n dag ouer as 80 nie.

“Die Here se boodskap aan my was dat ek Hom moet verheerlik en Sy boodskap moet uitdra aan ander. Dis so wonderlik dat die Here vir my as nietige mens in Sy Koninkryk gebruik om ’n getuie te wees,” het sy in ’n kraakhelder stem in ’n toespraak by ’n spesiale verjaardagtee gesê.

Verskeie inwoners – die meeste in die tagtig en negentig – en twee van haar drie seuns was onder die gaste.

Sy is al 33 jaar ’n inwoner van die La Gratitude-aftreeoord, wat ’n groot plakkaat by die ingang opgesit het om dié mylpaal te vier.

“Dis die heerlikste verrassing; ek het niks hiervan geweet nie, en dis ’n teken van die liefde wat ek in my lewe ontvang.”

Op ’n vraag wat haar geheim vir haar lang lewe is, het sy gesê “dis seën en die genade van die Here”.

“Om ’n kind van die Here te wees, is die grootste vreugde in my lewe,” het sy gesê.

Positiewe denke en ’n gesonde lewenstyl het ook bygedra.

Sy het nog tot op 86 jaar tennis gespeel en gereeld geswem – later in die swembad gestap. Sy het haar ook met musiek – veral klassieke musiek en koormusiek – en blomme omring.

Serfontein, ’n musiekonderwyseres van beroep in die noordelike voorstede van Kaapstad, was op haar dag ’n kranige beoordelaar van blommeskoue.

Serfontein was sedert 1963 ’n lid van en beoordelaar vir die Wes-Kaapse Blomme­rangskikkings­vereniging, asook erelid sedert 2010, en het gereeld internasionaal deelgeneem. Sy is ook as gas na verskeie internasionale blommeskoue genooi.

Haar pa is in 1903 as sendeling deur die Rhynse Kerk van Duitsland na Suid-Afrika gestuur en is twee jaar later getroud met sy liefde, wat van Duitsland by hom in Suid-Afrika aangesluit het.

Serfontein is die jongste en enigste oorlewende van die Holtzapfel-gesin se agt kinders. “Musiek was ’n groot deel van ons familielewe en het later gelei tot ’n vierstemmige koor, wat ons tydverdryf was,” het sy met haar 100ste verjaarsdag verklap.

Hulle was ’n hegte gesin.

“Die basiese kenmerke van ’n huisgesin was by almal van ons teenwoordig – respek vir mekaar, liefde, eerlikheid en bedagsaamheid, maar die grootste is die liefde,” sê sy.

Sy is ook langer as 80 jaar – sedert 1941 – ’n intekenaar van Die Burger en lees nog daagliks haar koerant.

Sy het in 1938 gematrikuleer, maar eers met haar 50-jaar-reünie besef sy was in haar matriekjaar die dux-leerder. Sy was veral ook lief om konfyt te kook en speel graag orrel.

Sy het drie seuns, dr. Hein Ferreira (77) van Engeland, dr. Johann Ferreira (75) van Wepener in die Vrystaat en Fritz Ferreira (66) van Somerset-Wes, asook agt kleinkinders en vier agterkleinkinders.

Tygerburger

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article