’n Gemeenskapsbank in Worcester beoog om minder rente as groot banke te vra – dit is mits jy ’n lid word.
Die Communisave-gemeenskapsbank of Worcester Community Sacco wat in 2013 gestig is, het ten doel om bankwese na die gemeenskap te bring met laer rentekoerse.
Die bank is geregistreer by die Omsigtigheidsowerheid, ’n afdeling van die Reserwebank.
Die bestuurslede sê vir die afgelope paar jaar was dit ’n groot uitdaging om die vertroue van mense te wen weens wat met die Oompie-sage gebeur het, waar duisende mense hul geld verloor het in ’n ponzi-skema van David Cupido, ’n pastoor van Touwsrivier.
Volgens die bestuur is die bank daar om inwoners te help met meer bekostigbare rentekoerse.
Die raadslede van Communisave sê vir mense om die volle voordele van die bank te geniet moet hulle lede word van die bank en vir minstens ses maande by die bank wees.
Volgens Nik Wullschleger, een van die bestuurslede, is elkeen wat lid word van die bank ’n aandeelhouer in die bank.
“Ons bied toeganklikheid en ’n geleentheid om ’n aandeelhouer te word. Mense moet besef dit is nie ’n get rich quick scheme nie.”
Van die voordele, volgens die bestuur, is dat lede kan stem watter rentekoers hulle die beste pas (binne die toegelate minimum en maksimum). Tans het die gemeenskapsbank sowat 365 lede en beoog om die getal te laat groei.
“Elke lid kan 10 aandele koop teen ’n minimum van R50 per aandeel,” sê die bestuur.
Die groep sê hulle is ’n koöperatiewe finansiële instituut (CFI) met groot potensiaal om plaaslike gemeenskappe te help om hulself ekonomies te bemagtig.
Mense wat meer wil uitvind, kan Hendrico Geswind by 084 998 3006 bel.
. Die gemeenskapsbank hou op 25 Mei sy jaarvergadering en nooi mense om dit by te woon. Inwoners kan Standard volgende week dophou vir die venue.





