Die gemeenskap van Touwsrivier het25 Januarie ’n beminde en gewilde onderwyser, baanbreker, gemeenskapswerker en leier se lewe gevier met ’n kerkdiens in die saal van die Sekondêre Skool De Kruine.

Willem Hartnick, wat op 19 Februarie sy 79ste verjaarsdag sou vier, is op 18 Januarie in Kaapstad aan natuurlike oorsake dood. Hartnick se invloed strek veel wyer as net die onderwyskring in Touwsrivier, waar hy langer as 38 jaar gewerk en gewoon het voordat hy en sy vrou by ’n tehuis in Kuilsrivier ingetrek het.

Hy was ’n uitblinker in sport, onderwys en ’n baanbreker op vele terreine.

Hy was ’n veelsydige sportman wat tennis, krieket en rugby gespeel het.

Sy rugbyloopbaan het veral op kollege vlamgevat toe hy provinsiale kleure as skrumskakel vir die Westelike Provinsie (WP) losgespeel het.

Hy het klubrugby by Hamediens (Kewtown) as losskakel gespeel.

In Robertson het hy as losskakel en kaptein van die Robertson Town-rugbyklub saam met die legendariese Edgar Siljeur van die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) vir Robertson Town gespeel.

Tydens sy onderwysjare by Langeberg Sekondêre Skool was een van sy leerders die bekende dr. Julian Smith, ’n voormalige skrumskakel van Saru, voormalige registrateur van die Universiteit van Wes-Kaapland en ook die Universiteit Stellenbosch.

Hartnick was in die 1980’s sekretaris van die Kaaplandse Professionele Onderwysersunie (KPO) se Bolandstreek en voorsitter van die Touwsrivier-tak. As KPO-invloedryke het hy namens leerders vir KPO-beurse aansoek gedoen.

Hy was betrokke by die Touwsrivier-inwonersvereniging, ’n burgerlike drukgroep en die Touwsrivier Kinder- en Gesinsorg-vereniging, wat veral ’n stryd gevoer het teen uitsettings van mense wat nie dienstegeld kon bekostig nie.

So het hy verhoed dat munisipale amptenare deure grendel en gesinne op straat moes slaap.

Hy het saam met gemeenskapslede sopkombuise by die Touwsrivier Kinder-en-Gesinsorgvereniging gestig.

Hartnick het ook as gemeenskapsaktivis standpunt ingeneem teen die veiligheidspolisie se aanhouding van jongmense en het selfs betogings teen dié onreg gelei.

In sy onderwysloopbaan is hy bevorder tot adjunkhoof en het al waargeneem as prinsipaal by die Laerskool Steenvliet en De Kruine Sekondêre Skool.

By eersgenoemde skool is hy in 1975 aangestel en by laasgenoemde is hy in 1983 as adjunkhoof gesekondeer toe dié skool sy deure geopen het.

Hartnick laat sy vrou, Henriëtta (’n nooi Beukes), twee dogters, ’n seun en sewe kleinkinders agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article