Verskeie individue en organisasies betoog voor die hof teen borgtog vir die man wat weens die besit van kinderpornografie in hegtenis geneem is. Foto:


Die 53-jarige man wat Woensdag 17 Januarie in verband met kinderpornografie in hegtenis geneem is, het verlede Donderdag en Vrydag in die hof verskyn.

Hy was, volgens ’n polisieverklaring, in besit van 95 000 foto’s en 6 000 videos ten tyde van sy inhegtenisneming. Die inhegtenisneming was ook deel van ’n gesamentlike optrede deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens se reeks- en elektroniese misdaad-ondersoekeenheid en die Verenigde State van Amerika se departement van binnelandse veiligheid.

Twee ander mense is op 18 en 19 Januarie op dieselfde klagtes in die Kaap in hegtenis geneem.

Die Worcesteriet het Donderdag 25 Januarie in die hof verskyn vir ’n borgtogaansoek, en Vrydag 26 Januarie weer.

“Die borgtogaansoek van die beskuldigde het by die Worcester-landdroshof begin waar die aanklaer, Sonja Matthee, twee getuies, AO Barnard en kaptein van der Heever, geroep het om teen die borgtogaansoek te getuig. +Sy het haar saak afgesluit,” het die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Eric Ntabazalila, in ’n verklaring gesê.

Tydens Vrydag se hofverrigtinge het die verdediging met sy saak begin en dit afgehandel. Matthee het ook in die hof betoog hoekom die beskuldigde nie op borgtog vrygelaat moet word nie.

“Die verdediging het met sy saak begin en dit gesluit. Matthee het met haar argumente begin, waar sy die hof ingelig het dat dit nie in die belang van geregtigheid is om die beskuldigde borgtog toe te staan nie. Sy het die voorsittende beampte voorsien van die relevante regspraak en al die wetsveranderings oor die jare wat gewys het hoe ernstig die kwessie teen die beskuldigde is. Ná die sterk oortuigende argumente het die verdediging ’n uitstel versoek vir ’n geleentheid om sy argumente voor te berei. Die saak is tot 2 Februarie 2024 uitgestel vir die verdediging om sy argumente te lewer,” sê Ntabazalila.

Verskeie gemeenskapslede en organisasies het op albei dae voor die hof teen die beskuldigde se moontlik vrylating op borgtog betoog.

’n Petisie teen borgtog vir die beskuldigde is ook aan die staatsaanklaer oorhandig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article