Een van twee vuurwapens wat die polisie Maandag in ’n vermoedelik gesteelde BMW in Polokwane gekry het. Foto: SAPD


Wolseley-gemeenskapslede is keelvol vir die misdaad en moorde in dié dorp.

Lede van die Pine Valley-gemeenskap het ’n optog op 21 Maart na die polisiekantoor onderneem om hul misnoeë oor die situasie uit te spreek.

“Die gemeenskap is bekommerd oor die toename van misdaad in die omgewing, veral die toename van moorde. ’n Gemeenskapsvergadering is na afloop van die optog gehou waar verskeie rolspelers teenwoordig was. Op die vergadering is verskeie bekommernisse gedeel,” verduidelik kapt. Donald Farao, die Wolseley-polisie se bevelvoerder.

Hy verduidelik verder dat mense nie net bekommerd is oor al die misdaad nie, maar ook die invloei van buitelandse burgers en die groot hoeveelheid informele strukture wat oral opgerig word.

Klagtes oor swak dienslewering is ook geopper – veral oor swak beligting in dele van die dorp, wat tot misdaad bydra.

“Die gemeenskap is erg omgekrap omdat die dorp ’n tekort aan polisiepersoneel het; ook omdat plaasboere glo werkers buite die dorp gaan haal en hulle ná die seisoen net op die dorp agtergelaat word.”

Witzenberg se burgemeester, ’n hooggeplaaste offisier van die Worcester-polisiekluster, asook verteenwoordiges van die departement van binnelandse sake was ook by die vergadering.

Volgens ’n lid van die Pine Valley-buurtwag is een van die grootste probleme dat Wolseley hopeloos te min polisiebeamptes het om die dorp en sy inwoners veilig te hou.

“Ons het net vier beamptes per skof. Dit is onaanvaarbaar. Ons as die gemeenskap het ’n grondwetlike reg op veiligheid en beskerming.

“Hoe is dit moontlik as so min lede na die hele gemeenskap moet omsien?” wou die beampte, wat verkies om nie sy naam te noem nie, weet.

Verder kla hy en sê die afgelope drie weke is ’n man en ’n vrou doodgeskiet en ’n man doodgesteek terwyl sy dogter moes toekyk en sy daarna glo verkrag is, en nog ’n man is vermoor.

Kapt. Farao het dit alles bevestig.

“Ek beaam die feit dat ons te min beamptes het om die gemeenskap ten volle te polisieer. As ons net nog 10 beamptes kan bykry, sal dinge reeds baie beter gaan,” meen Farao.

Standard het ’n navraag aan die provinsiale mediakantoor van die polisie gestuur oor die min beamptes by die Wolseley-polisiekantoor, maar is na die plaaslike kantoor verwys.

Die buurtwaglid is van mening dat die kaptein se penarie verstaan kan word, maar wil hê die polisie, die buurtwag en die gemeenskap moet saamwerk om misdaad hok te slaan.

“In die verlede het ’n polisiebeampte altyd saam met ons gepatrolleer, maar omdat daar nou so min van hulle is, het dit tot ’n einde gekom. Ons het die afgelope naweek die gemeenskapsleiers genooi om saam met ons te kom patrolleer en beoog om dit gereeld vir die volgende paar maande te doen. Ek wil nie stilsit en niks aan die situasie doen nie. Ons moet almal in ons stryd teen misdaad saamstaan,” verduidelik die buurtwaglid.

Volgens kapt. Farao verstaan hy die gemeenskap se frustrasie, maar sê ook die dorp se statistieke lyk nie veel erger as die vorige jaar nie.

“Moord het van 14 in 2021 tot 15 in 2022 gestyg. Rooftogte, veral by spaza-winkels, het van 15 tot 17 gestyg. Aanranding met die doel om ernstig te beseer is op van 189 tot 197 en algemene aanranding is op van 121 tot 127. Huisbrake en diefstal se syfers het egter gedaal,” sê Farao.

Die verskillende rolspelers sal later vandeesmaand terugvoering gee oor hoe al die onderskeie probleme die hoof gebied kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article