Roodewal-inwoners in gesprek met die polisie tydens ’n imbizo om die toename in misdaad in die gebied te bespreek.Foto:


Die gemeenskap van Roodewal het verlede Dinsdag (22 Februarie) ’n Imbizo gehou nadat twee sinnelose moorde die vorige naweek gepleeg is.

Die Imbizo is gehou tesame met die polisie om die misdaad wat in Roodewal-omgewing plaasvind, te bespreek. Volgens AO Vatishwa Jacobs, ’n woordvoerder van die polisie, het kol. Willis Smith, die Vispol-bevelvoerder, en AO Fillies, die sektorbevelvoerder, die Imbizo bygewoon, Die BO-raadslid Margaret Swartz was ook onder die mense wat die Imbizo bygewoon het.

“Die gemeenskap sê hulle wil nie nog ’n Avianpark in Roodewal hê nie; hulle is moeg vir hierdie gangsters,” sê Jacobs. Volgens hom het die Roodewal-inwoners ingestem om ’n buurtwag te stig waar die gemeenskap beheer oor sy omgewing sal neem.

“Gemeenskapslede sê hulle wil hul strate vir hulself terughê. Kol. Smith het hulle ook toegespreek deur te sê die gemeenskap moet die polisie se oë en ore wees sodat die polisie en die gemeenskap kan saamwerk om bendelede en die verkoop van dwelms te bestry. Adjudant Fillies het gesê as die gemeenskap enige inligting oor enige onwettige aktiwiteite het, kan hulle die polisie bel en anoniem bly,” verduidelik Jacobs.

Margaret Swartz, ’n raadslid, sê dit is hoog tyd dat die sinnelose geweld in Roodewal ’n einde moet kry. Sy sê die inwoners kan nie meer loop waar hulle wil nie, en voeg by kinders in die buurt is nie meer veilig nie omdat iemand elke naweek geskiet of gesteek word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article