Op Saterdag 19 November het View Of Hope die voorloper in sy afdeling in sy agterplaas, Khyamandi, Stellenbosch, gaan aandurf.

Die wedstryd het later as beplan begin, en sommer vroeg in die wedstryd ruk die besoekende span, Hope, die tuisspan toe Jonathan Prins in die vyfde minuut ’n hoekskop van Caden Pass goed beheer met die kop, en die doelwagter klop om die telling 1-0 in Hope se guns te maak.

Die span het daarna in ’n half verdedigende formasie begin speel, en toegelaat dat die tuisspan, Stellenbosch Cheetahs, die meeste speelwerk doen.

Kort voor halftyd breek Jonathan Prins weer goed deur die verdedigers en stuur ’n kanonskoot na die doelwagter wat die bal nie kon bemeester nie. Die bal het gunstig vir Yongs Dubula gespat, maar hy kon dit nie goed beheer nie en skop die bal toe oor die dwarslat. Die rustyd­telling is dan ook 1-0 in Hope se guns.

Ná rustyd maak Hope se verdedigers ’n groot blaps en veroorsaak dat die tuisspan se doelskieter die bal ook met die kop in die net laat beland. Telling 1-1.

Met tyd aan die uitloop, val Cheetahs weer aan, en die bal spat los en Attie, Hope se doelwagter, en Cheetahs se doelskieter ding al twee mee om die bal.

Attie Madlamba slaag daarin om die bal uit te skop, maar in die proses raak hy die doelskieter en die skeidsregter ken ’n strafdoel toe aan Cheetahs wat dit in punte omskep na 2-1 in Cheetahs se guns.

Met sowat 10 minute speeltyd oor val Hope nou verbete aan. In een van hul aanvalle speel Jonathan Prins en Fabian Esterhuizen ’n one two na mekaar, maar net voor Fabian die bal na die pale wil skop, beweer die lynregter hy’s onkant, en die skeidsregter stop die beweging onder luide protes van die toeskouers.

Die wedstryd eindig met die telling 2-1 in die tuisspan se guns. Spelers wat uitgesonder moet word, is die verde­digers, asook Prins wat alles probeer het.

Die klub se volgende wedstryd is Saterdag 26 November op Esselenpark.

Die klub se grondwet word op 9 Januarie om 18:00 in die klubhuis verander en op 15 Januarie is die jaarvergadering.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article