’n Verbyganger het Sondagoggend op pad kerk toe op ’n gru-vonds afgekom toe ’n pasgebore baba in ’n plastieksak ontdek is.
Die De Doorns-polisie is Sondag 12 Maart om 10:55 van die vonds in kennis gestel. Die babameisie het nog geleef toe sy gevind is.
“Die verbyganger het ’n geluid in ’n bos gehoor en ondersoek ingestel. Hy het die plastieksak in die bos versteek gekry. Die baba is in Weltevrede ontdek,” het ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie verduidelik.
De Doorns is die afgelope drie jaar berug vir babas wat weggegooi word, en hierdie is die eerste baba wat nog lewend gevind is.
’n Groep gemeenskapslede het verlede jaar besluit om ’n Baby Saver in die dorp aan te bring om hierdie voortdurende probleem te help bekamp. ’n Baby Saver, of Bababoks, is ’n houer wat in ’n muur by ’n plek van veiligheid ingebou is. Ma’s wat voel hulle sal nie na hul kind kan omsien nie, kan hul baba in die houer gaan plaas. ’n Alarm sal dan afgaan, wat die nodige en relevante nooddienste en ander rolspelers in kennis sal stel dat ’n baba in die boks geplaas is.
Die baba word dan deur nooddienste ondersoek en dan neem die ander rolspelers dit van daar af verder.
Miga Coetsee van die NG Murray-gemeente, wat deel is van die groep wat hierdie projek ’n realiteit wil maak, sê hulle het uiteindelik ’n plek gekry waar hulle die bababoks gaan installeer.
“Ons het op ons laaste vergadering besluit om die boks by die Brave Heart-huis op te sit. Ons voer steeds gesprekke met ander rolspelers, soos die polisie, om hulle aan boord te kry sodat ons alles in orde kan kry. Ons is in hierdie stadium nog in die geldinsamelingsfase van die projek sodat ons die boks kan koop en laat installeer,” het Coetsee verduidelik.
Enigeen wat ’n skenking aan die projek wil maak, kan die NG Murray-gemeente by 023 356 2359 skakel.
Op hierdie tydstip is die ma van die pasgebore babameisie nog nie opgespoor nie en die ondersoek duur voort. Die saak word deur die Worcester-polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek.. Enigeen met inligting oor waar die kind se ma haar bevind, kan sers. Natasha Hendricks by 082 335 0656 bel.


