Die breë gemeenskap van Worcester is in rou gedompel ná die skoknuus van die skielik dood van ’n geliefde, welbekende inwoner van dié dorp.
Arie Fourie is Donderdag 7 Maart in ’n motorongeluk in dié dorp dood. Volgens Fourie se Facebook-blad het hy Woensdagaand na Rawsonville gegaan om ’n vriend se verjaarsdag te vier.
Fourie was veral bekend as bemarkingsbestuurder by die Mountain Mill-winkelsentrum in Worcester. Hy was ook baie betrokke by gemeenskapsake – veral die Charl Munnik Foundation.
Sy lewensmaat, Johan du Preez, het die volgende op Facebook geskryf: “Hoe sê ons koebaai, wie het geweet dit sal die laaste aand wees wat ek in jou blou oë kyk en jou lag hoor. Rus sag, my Angel, my lams jopie, my lewe is niks sonder jou [sic].”
Fourie het in 2015 by die sentrum begin werk. Sam Orton, die bestuurder van die sentrum, het die volgende met Standard & Gazette gedeel: “Ons sal die kaleidoskoop van kleure wat Arie in ons lewe gebring het, vir altyd mis – nie net deur sy flambojante hemde nie, maar deur die warmte en vriendelikheid wat hy met elke interaksie uitgestraal het. Sy lag weergalm deur die gange; ’n konstante herinnering aan die vreugde wat hy moeiteloos versprei het. Ons sal die manier mis waarop sy lewendige persoonlikheid en onwrikbare vriendelikheid ons dae opgehelder het en ons saamgebring het in ’n band wat blote werkplekverbindings oorskry het. Arie het warmte en gees na die kantoor gebring omdat hy ’n opregte omgee vir mense gehad het. Arie laat ’n leemte wat nooit gevul kan word nie, maar sy geheue sal ons aanhou inspireer en ons herinner aan die belangrikheid van vriendelikheid, lag en kameraadskap in beide ons professionele en persoonlike lewe.”
Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, was Fourie reeds dood toe lede van die polisie op die toneel kom.
“Met die polisie se aankoms op die toneel was die ambulansdienste reeds daar. Paramedici het toe die polisie in kennis gestel dat Fourie reeds aan sy beserings beswyk het. Die bestuurder van die voertuig is na ’n hospitaal geneem vir behandeling,” het sy gesê.
Jacobs het verder gesê die voertuig waarin hulle gery het, ’n Ford Ranger-bakkie, het teen ’n boom gebots.
Dit is in hierdie stadium nog onbekend watter beserings die bestuurder van die bakkie opgedoen het.





