Skokgolwe het deur die gemeenskap van Worcester getrek na nuus van die sterfte van Adeeb Ismail versprei het.
Volgens ingeligtes was Ismail vanoggend, Vrydag 13 September, in ’n motorfietsongeluk betrokke by Citrusdal.
Medelye het amper onmiddellik begin instroom vir hierdie bekende, allemansvriend.
Adeeb was werksaam by die Breedevallei Brandweerdiens en het ook na ure gewerk by sy pa die raadslid, Ceraaj Ismail, se wegsleep dienste, Ismail’s Towing.
Antoinette Steyn, uitvoerende burgemeester van die Breedevallei het die volgende boodskap op haar blad gedeel: “Vanoggend is ons stil in die kantore en gange van BVM. Adeeb… ons moes die nuus met ’n swaar hart ontvang vanoggend en ons weet nie hoe om als te verwerk want ons sien jou soos gister nog voor ons… jou groot smile met jou brandweer taak… besig om in die trok te ry om lewens te red en help… dankie vir jou daar wees vir ons mense van die Breedevallei… dankie vir jou goeie gesindheid waar ek jou ook gekry het aan diens of van diens af… .dankie is al wat ek nou kan sê… want my hart is seer… seer vir almal wat jou moet groet en wat gaan moet aangaan sonder jou. Jou ouers… die hele Ismail-gesin en familie, vriende en kennisse ek is so, so jammer om te verneem van jul verlies vanoggend. Ek is so, so jammer… ek het nie woorde nie.. So, so jammer baie liefde aan jou ouers familie [sic],” lui die inskrywing.
’n Familielid in die buiteland het ook ’n hartroerende boodskap op Facebook gedeel.
“Hy het vir sy werk as ’n brandweerman, ’n insleepvoertuigbestuurder vir die familiebesigheid en ‘n motorfietsryer saam met baie ander jong ouens van Worcester geleef. Sy toewyding om sy gemeenskap en die mense van Suid-Afrika te dien was onwrikbaar. Sy dapperheid en onbaatsugtigheid het ontelbare lewens geraak, en sy afwesigheid laat ‘n leemte wat nooit gevul kan word nie,” lui ’n gedeelte van die inskrywing.





