Worcester se kleurvolle en geliefde tannie Kitty Johnson is op 14 Februarie in die ouderdom van 95 jaar oorlede.
Tannie Kitty het jare lank in haar huis by Greenwoodlaan 6, op die hoek van Greenwoodlaan en Sipresweg in Reüniepark, gewoon.
Ek het vir langer as 15 jaar – van 1995 tot ná 2010 – altyd by tannie Kitty aangegaan as ek tydens verkiesings van deur tot deur gegaan het, en so het ek en tannie Kitty oor die jare groot vriende geraak.
Tannie Kitty was ’n pragtige mens – van die soort waarvan vandag nog min oor is. Sy het almal altyd hartlik in haar huis ingenooi en almal altyd tuis laat voel.
Sy was veral mal oor kinders.
Ek weet Tannie Kitty en haar oorlede eggenoot (wat ek nooit geken het nie), het op ’n plaas in die Moordkuil-omgewing geboer.
Interessantheidshalwe kan ek noem dat hierdie plaas voorheen behoort het aan die bekende Oom Henri de Villiers (1901-1980), wat ’n kleinkind van ds. William Murray (1829-1899) was, wat die NG Moedergemeente se predikant van 1865-1899 was.
Oom Henri was ook jare lank ’n raadslid by die destydse Worcester-munisipaliteit en hy was ook die oom van die bekende skrywer en Hertzogpryswenner Elsa Joubert. Elsa se ma, Elsabé, en Oom Henri de Villiers was broer en suster.
As ek reg onthou, het Tannie Kitty se man en sy broer saam op hierdie plaas geboer, en nadat hulle die plaas verkoop het, het Tannie Kitty in Greenwoodlaan kom aftree.
Tannie Kitty se broer het toe later jare ook saam met haar in die huis kom woon.
Tannie Kitty se huis by Greenwoodlaan 6 was ’n bekende baken met sy spinnerak-en-spinnekop-tuinkekkie. Baie inwoners sal nog hierdie baie kreatiewe metaaltuinhekkie onthou wat in die vorm van ’n spinnerak gesweis was en waar daar dan in die linkerkantse hoek van die hekkie ’n groot swart, metaalspinnekop gesit het, wat sulke wit spikkels op gehad het, en dan het die spinnekop sulke oë en so ’n gevaarlike rooi mond gehad.
Hierdie tuinhekkie het ’n groot bekoring vir enige kind ingehou en klein kindertjies – en ek toe ek klein was – wou altyd na hierdie tuinhekkie gaan kyk!
Dit was ’n groot jammerte toe die nuwe eienaars van Tannie Kitty se huis hierdie hekkie uitgehaal het toe hulle ’n “vibracrete”-muur om die huis opgerig het, want toe het hierdie plaaslike baken in die slag gebly.
Op sy dag was hierdie tuinhekkie so ’n bekende baken in Reüniepark dat ’n mens amper vir vreemdelinge jou adres kon beduie het deur te sê jy woon vyf huise links van die huis met die spinnekophekkie of sewe huise oorkant die pad van die huis met die spinnekophekkie!
Ek kan ook onthou dat Tannie Kitty vir jare der jare in die kerkraad van die NG Gemeente Worcester-Noord gedien het, en sy was altyd ’n baie bekende en geliefde gesig in die kerk.
Ek het Tannie Kitty verlede jaar, op 5 Junie, vir oulaas gesien toe ek ou bekendes by die siekeboeg by die Nuwerus-ouetehuis gaan opsoek het.
Tannie Kitty was nog net so pragtig soos altyd en het toe mooi aangetrek in haar kamer gesit en haar aandete gesit en eet, maar sy kon niemand meer onthou nie en ’n mens kon sien haar geheue het haar in die steek gelaat.
Ons dink vandag aan Tannie Kitty, wat vir soveel jare so ’n groot steunpilaar in die gedeelte van Reüniepark was waar sy so lank gewoon het.
Vaarwel, Tannie Kitty, daar is baie van ons wat jou nog met aangename herinneringe onthou en jou baie sal mis.
Namens Wyk 7 se inwoners stuur ek by wyse van hierdie boodskap ons meegevoel aan Tannie Kitty se kinders, kleinkinders en agter-kleinkinders.


