Piet van Vuuren, ’n geliefde Worcester-ikoon en stigter van Die Vispan, is onlangs oorlede.
Wat eens ’n klein begin was, het Oom Piet, soos almal hom geken het, opgebou tot wat menige klante as die beste viswinkel in Worcester beskou.
Oom Piet, wat in Bonnievale gebore is, het oor die jare verskeie rolle vervul. Hy was ’n polisieman en het daarna by Huide en Velle gewerk voordat hy sy passie in die visbedryf gevind het.
Hy was bekend vir sy kitaarspel in sy jonger dae, maar dit was sy handigheid en dissipline in sy werk wat uitgestaan het.
Oom Piet se liefde vir sy nering en sy klante het by Die Vispan duidelik deurgeskyn. Sy winkel het soos ’n goed-geoliede masjien gewerk – die porsies was altyd ruim en van bestendige gehalte, en sy personeel het as ’n toegewyde span gewerk. Die gehalte en vriendelikheid van Die Vispan het diep spore in Worcester gelaat. Hy het groot drome gehad, insluitend die bou van ’n houtdek voor sy winkel, waar klante onder sambrele kon sit en hul vis geniet. Oom Piet se passie en entoesiasme het ’n blywende indruk gemaak.
“Ons as klante sal Oom Piet en sy bydrae tot ons gemeenskap opreg mis. Vrydagmiddae se besoek aan Die Vispan sal nooit weer dieselfde wees nie. Dankie, Oom Piet, vir die vreugde wat jy gebring het,” het die raadslid Julian Kritzinger gesê.





