Danie Tyambetyu tree na 34 jaar uit die onderwys, Foto:

Credit: SYSTEM

Een van die Hoërskool Breërivier se mees geliefde opvoeders en taalpuriste, die 57-jarige Danie Tyambetyu, roep hierdie week ná 34 jaar as onderwyser by dié skool vir eers halt.

Danie, oorspronklik van De Doorns, is die vierde oudste van agt kinders (vier seuns en vier dogters) van wyle Oom Joyce en Auntie Anna Tyambetyu. Hoewel albei sy ouers arbeiders was wat hul brood en botter in die wingerde verdien het, het hulle toegesien dat hy universiteit toe kon gaan. Hy het sy laerskool-opleiding aan Bonne Esperance begin, en het daarna tot graad 4 by Glen Heatlie in De Wet skoolgegaan en sy laerskoolopleiding aan die bekende NGK Oefenskool in Worcester voltooi.

Tyambetyu het sy hoërskool-opleiding aan Worcester Junior Sekondêre Skool begin en van standerd 7 (graad 9) na die Hoërskool Breërivier verskuif, waar hy matrikuleer het. Hy het aan die Universiteit Wes-Kaapland (UWK) gaan studeer en begin in 1988 by sy alma mater as opvoeder in die in die Afrikaans-departement gewerk.

Dit is hier waar hy sy passie vir die onderwys – maar veral vir Afrikaans – behoorlik uitgeleef het, en letterlik honderde leerders oor die jare heen kan getuig van die liefde en respek wat hy as opvoeder agtergelaat het.

Een van sy kollegas, Craig Visagie, onthou toe hy as onderwys-student by HB kom proef het, was dit juis Tyambetyu wat hom onder sy vlerk geneem en die fynere kunsies van veral Afrikaans geleer het.

Sy huidige hoof, Hilton May, praat ook met groot lof van sy kollega se deeglikheid in sy vakgebied, terwyl Cathy Uys, wat etlike jare sy kollega in dieselfde departement was, ook haar lof vir sy liefde vir Afrikaans besing. Uys onthou hom as iemand met ’n pragtige handskrif en sy sê dit sal haar altyd bybly hoe pynlik netjies geklee hy te alle tye skool toe gekom het.

Tyambetyu, wat sy hele onderwys-loopbaan aan Breederivier verbonde was, het ook sy gewig by buitemuurse aktiwiteite ingegooi en was ten nouste by die skool se krieket- en rugbyspanne se afrigtiging betrokke. Dit was vir hom besonder bevredigend as leerders van die skool in verteenwoordigende spanne opgeneem is.

Op die vraag wat hy met al sy vrye tyd gaan doen, sê hy “die tyd sal maar leer”. Sy dogter Danielle, ’n prokureur van beroep, se gade gaan egter vroeg in 2023 in Spanje werk. “Ek sal heel moontlik by hulle en natuurlik my eerste kleinkind gaan kuier,” lag hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article