Doreen Dreyer op haar 100ste verjaarsdag. Foto:


’n Merkwaardige Worcesteriet, wat in haar leeftyd as onderwyseres ’n onuitwisbare indruk op duisende kinders se harte gemaak het, is verlede Maandag (24 Julie) in die ouderdom van 101 oorlede.

Doreen Dreyer is op 23 Oktober 1921 op die spogplaas Fenilla Falls in die Winterberg in die Adelaide-distrik, Oos-Kaap, as enigste kind van Johannes Frederik Dreyer en Elizabeth Christina (van Vuuren) Dreyer gebore.

Sy was in Adelaide op skool en het haar primêre onderwysdiploma in 1941 aan die Grahamstown Training College voltooi.

Daarna was haar eerste onderwyspos by ’n klein skooltjie buite Alicedale, daarna Uitenhage naby Addo, daarna by Eunice Primêre Meisieskool in Bloemfontein en ook in Wellington.

Vandaar het sy in 1953 na die destydse Worcester Primêre Seunskool uitgekom. Hierdie skool was in Tulbaghstraat (oorkant NG Vallei-kerk), maar is later gesloop om vir die Hoërskool Worcester Gimnasium plek te maak. Toe dié skool ’n ko-ed-skool word, het sy Langerug toe geskuif en by Worcester Primêr skoolgehou. Deur die jare het sy vir duisende Worcester-seuns skoolgehou, onder wie die sanger David Kramer, sy broer, die skilder John Kramer en die oudhede-kenner, wyle Stephan Welz. Sy kon vir ure staaltjies vertel oor almal wat by haar in die klas was.

Sy het in 1981 op 60-jarige ouderdom afgetree en vir lang jare in Meiringstraat 29, Paglande, gewoon, waar sy die huis met die bekende geskiedenisonderwyseres, Dolly Niehaus, gedeel het. Juffrou Evie Melck het by hulle gewoon.

Doreen het op 1 Februarie 2014 na Huis Andries Hamman verhuis en sy het tot onlangs nog in haar eie woonstel gewoon.

Doreen se liefde vir wêreldreise is alombekend en sy en haar vriendin, Dolly Niehaus, het onder meer etlike lande in Suid-Amerika, Europa en in die Midde-Ooste besoek, waaronder interessante plekke soos Turkye, Libanon en Iran. Sy het gesê as sy ooit op ’n ander plek moes woon, sou sy Cintra in Portugal gekies het vanweë die gebied se wonderlike klimaat.

Deur al die jare het sy steeds haar oud-leerders se wel en weë met groot belangstelling gevolg.

Doreen was haar lewe lank ’n groot kunsliefhebber en het pragtige objet d’art van haar wêreldreise bymekaargemaak. ’n Interessante anekdote is dat die bekende kunstenaar Jean Welz destyds vir Doreen geskilder het. Haar groot verwyt was dat sy nooit hierdie skildery gekoop het nie.

Doreen was deur die jare ’n groot motorliefhebber en sy was bekend vir haar groot liefde vir veral Alfa Romeo-motors. Haar vorige twee motors het almal so ’n spesiale plekkie in haar hart gehad dat sy dit nooit oor haar hart kon kry om hulle te verkoop nie en het hulle eerder aan oud-leerders weggegee sodat dit in hul motorversamelings opgeneem kon word om opgepas te word.

Doreen het tot onlangs in haar eie woonstel gewoon, maar is vier maande gelede na ’n kamer verskuif. Doreen se peetkind, Madeleine Jourdan, het haar teen die einde bygestaan en vertel sy het Vrydag 21 Julie baie begin verswak. Sy was vir een week fisiek verswak, maar geestelik so skerp soos altyd, totdat sy ’n paar uur voor haar afsterwe in ’n koma verval het. Sy is Maandag 24 Julie in die Mediclinic opgeneem en is om 18:45 daar oorlede.

Doreen het nooit getrou nie en het nie kinders gehad nie, maar was Madelein se peetma. Sy en Madeleine se ma, Mareta Nel, was vriende sedert Doreen 27 jaar oud was.

Madeleine se eggenoot, die bekende oud-onderwyser van Worcester Gimnasium, Tom Jourdan, het Doreen beskryf as ’n merkwaardige vriend en geliefde mentor wat sedert 1953 diep spore in die Worcester-gemeenskap getrap het, waarvan 18 jaar as geliefde onderwyseres in die destydse Worcester Primêre Seunskool.

Katrina Smit het Doreen vir 36 jaar getrou met haar dagtakies gehelp.

Een van Doreen se groot tydverdrywe elke dag was om tot onlangs nog Whiskey die rondloperkat, wat toe ’n tuiste by die ouetehuis gevind het, kos te gee.

Doreen het egter self twee maande gelede besluit om Whiskey in iemand se sorg te plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article