Die afsterwe van juffrou Joslyn Visagie, ’n onderwyser by Hexvallei Sekondêre Skool, het die breë gemeenskap in rou gedompel. Foto:


Die gemeenskap van De Doorns het gesamentlik die afsterwe van ’n geliefde juffrou verlede week betreur.

Juffrou Joslyn Visagie is verlede week in haar slaap aan natuurlike oorsake dood. Sy laat nie net by Hexvallei Sekondêre Skool ’n groot leemte nie, maar ook in die breë gemeenskap.

Sy het haar termyn by Hexvallei Sekondêr in 1994 begin, ’n jaar nadat die skool sy deure geopen het.

“Sy het as beginner-opvoeder hier begin en was 29 jaar lank deel van die skool-familie. Sy was ook ’n huishoude­like naam in die gemeenskap van De Doorns,” vertel Arnold Mei, die skoolhoof.

Mei meen juffrou Visagie het altyd haar leerders eerste gestel en die ekstra myl gestap om seker te maak hulle ontvang die nodige ondersteuning.

“Juffrou Visagie was vir baie jare die gr. 12-hoof. Sy het die belange van die leerders altyd vooropgestel, was onbaatsugtig in haar diens aan die skool en leerders se onderrig. Sy het haar vakansies opgeoffer om toesig te hou by studiekampe. Sy was pligsgetrou in die uitvoering van haar pligte en was toegewyd deurdat sy weinig afwesig was en baiekeer siek skool toe gekom het. Sy het net die beste van haar leerders verwag en het vir baie jare jaarliks ’n slaagsyfer van 100% in haar vak behaal. Sy was streng en het hoë standaarde gestel,” deel Mei met Standard.

Talle gemeenskapslede het hul skok en leedwese op sosiale media gedeel nadat die nuus van hierdie bekende onderwyser se heengaan versprei het.

“Vaarwel my suster. My hart is seer. Jy was nie net my kollega nie, maar ook my vertroueling en suster. Ek gaan ons diep vertroulike gesprekke mis. Jou agter-uit-die-keel lag is nou stil, maar dit sal nooit vergete raak nie. Jy was ’n mense mens. Jou liefde vir jou leerders was onbeperk. Jou moederlike skel gaan hulle beslis mis. Rus in vrede. Sal altyd lief wees vir jou,” lui ’n inskrywing op Facebook gemaak deur JD Johnson.

’n Ander sosialemedia-gebruiker het die volgende gesê:

“Dit is baie hartverskeurend om te verneem dat juffrou nie meer met ons is nie. Een van die beste leerkragte by Hexvallei Sekondêre Skool. My innige meegevoel aan die familie, vriende, leerkragte, oud-leerlinge en leerders. Hoe kan juffrou my verlaat? Ek het juffrou nog so nodig. Juffrou se woorde het nooit op dowe ore geval nie. Juffrou se woorde het my gebou, gevorm en nie gebreek nie. Juffrou se geskel en kerm was uit die boonste rakke. Ek sal al die goeie tye koester. Dit sal geensins vergaan. Woorde ontbreek, want my hart is vreeslik seer en teen die grond gegooi. Mag juffrou se siel in ewige vrede rus. My hart kan dit nooit hou nie.”

Verder voeg Mei by dat Visagie ’n integrale deel van die skool was, in alle aspekte. “Juffrou Visagie het goeie verhoudinge met leerders en kollegas gehandhaaf. Sy was die gom in die personeel van Hexvallei Sekondêr deurdat haar klas beskou is as die personeelkamer waar almal gekuier het gedurende pouses. Sy was ’n lojale ondersteuner van die skool se sportspanne en was betrokke by hokkie- en sokkerafrigting sowel as sportadministrasie en was fanaties oor die skool se rugbyspanne.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article