Een van Worcester se gewildste gospelsangers en gemeenskapsaktiviste, die 82-jarige Thomas Peters, of Oom Tommie, soos hy onder oud en jonk bekendgestaan het, is verlede Donderdag oorlede nadat hy die vorige dag ’n massiewe beroerte gehad het.
Oom Tommie, ’n gebore en getoë Worcesteriet, het ná voltooiing van sy skoolopleiding in die kruideniersafdeling van Ackerman’s begin werk. Toe dié afdeling ná etlike jare sluit, het hy eers vir die groothandelaar Metro gaan werk en daarna tot sy aftrede, vir meer as 30 jaar, vir nog ’n kruideniersware-groep, Bloch Supermark.
Intussen is hy met Dinah, ’n nooi Timm, getroud en vyf kinders is uit die huwelik gebore – twee dogters, Loretta en Hilary, asook drie seuns, Norman, Hillman en Theowin. Oom Tommie was ook die trotse oupa van 10 kleinkinders en grootoupa van 11 agterkleinkinders. Sy gade het hom in 2007 ontval en daarna is hy in 2009 weer getroud – met Felicity, ’n nooi Fransman, ook van Worcester.
Tommie was ten nouste betrokke by rugby en was vir etlike termyne onder-voorsitter van Worcester Perseverance en het ook waargeneem as voorsitter van dié klub ná die afsterwe van die voorsitter en bekende sportpersoonlikheid, Israel (Jeff) Klink.
Oom Tommie se ander groot liefde was sang en hy was een van die stigterslede van die destydse sanggroep Moon Glows. Hy het ná hul ontbinding die sanggroep Question Marks gestig, wat die tradisie van a capella in veral Worcester maar ook buite die dorp se grense laat voortleef het. Die groep het later sy fokus na gospel verskuif en spog ook met ’n hele paar CD’s om hierdie tradisie vir die nageslag te laat voortleef.
Oom Tommie het dikwels as solosanger by sangaande, kerkbyeenkomste of ander gesellighede opgetree en was nog verlede jaar deel van die groep Golden Footsteps wat veral senior burgers in die stadsaal het met hul uitsonderlike sang vermaak het.
Oom Tommie was ook vir jare saam met sy susters Annie en Nettie lid van die kerkkoor van AME Sion in Le Sueurstraat, terwyl hy tot sy dood ook as lekeprediker by dieselfde kerk gedien het. Hy was ook vir etlike jare eers by Herderstroom en later by Worcester Korrektiewe Dienste as geestelike werker betrokke.
Hoe gewild Oom Tommie werklik was, kan ervaar word uit die honderde boodskappe van meegevoel en die konstante toestroming van mense na sy huis sedert sy afsterwe.
. Oom Tommie word Sondag (20 Oktober) om 13:00 vanuit die AME Sion kerk begrawe. Die troosdiens by sy woning by Sampsonstraat 31 is om 12:00.





