Nóg ’n Worcesteriet is die afgelope naweek in ’n grusame ongeluk dood.
Rafeeq Nortje (31) was Saterdagaand kort voor middernag in ’n ongeluk betrokke toe hy beheer verloor het oor die motor wat hy bestuur het.
“Hy en ’n passasier het op die R43 by Avianpark gery. Hy het beheer verloor en die motor, ’n swart Honda Accord, het gerol en van die pad af gery. Die passasier, Shaun Gempies (29), was in die wrak vasgekeer en paramedici het Nortje op die toneel dood verklaar. Bloed by sy mond en oor uitgestroom en sy regterbeen was gebreek,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie.
Gempies is, nadat hy uit die wrak gesny is, met ernstige beserings na ’n nabye hospitaal geneem.
Een van Nortje se susters, Najwa Abrahams, sê haar broer het met almal oor die weg gekom.
“Ons ouers het ons geleer om respek vir grootmense te hê en nooit op ander neer te sien nie.
“Dit is hoe Rafeeq gelewe het, en daarom het hy met almal oor die weg gekom.”
Volgens haar was hy die laatlam in die gesin en was geliefd en bederf deur almal.
“Hy is baie deur ons ouers en die res van die gesin bederf. Hy was bevoorreg om in ’n groot gesin groot te word,” meen sy.
Hy het gelewe vir sy sesjarige dogtertjie en die twee het ’n hegte band gehad.
“Sy groot liefde was sy dogter, Atiya Nortje, wat vanjaar ses jaar oud geword het. Sy was sy hele bestaan en hulle was ontsettend lief vir mekaar.
“Hulle het ’n onvernietigbare band gehad. Hy was ’n wonderlike pa en het altyd die ekstra myl vir sy dogter geloop.”
Sy verduidelik verder hoe sy en die res van hul sibbe almal ook gaande oor mekaar was en altyd tyd gemaak het vir mekaar.
“Rafeeq was ook baie lief vir sy broer, Ardeel, ons suster, Fagmedah, en vir my.
“Wanneer daar ’n kans was, het ons altyd tyd saam deurgebring. Rafeeq was ook baie lief vir sy neefs en niggies.
“Hy was ’n gewone mens met ’n nederige hart vir ander en almal. Dit is gesien die dag met sy begrafnis toe die mense soos miere geswerm het om hom vir oulaas te groet.”
Nortje is Sondagmiddag ter ruste gelê.





