Charles Marais, ’n bekende en geliefde bloemis van Worcester, is die afgelope Sondag ter ruste gelê.
Hy is op 24 Augustus ná ’n kort siekte in die ouderdom van 67 jaar in die Worcester-hospitaal oorlede.
Hoewel Marais vir sowat 35 jaar die eienaar van Ryan O-Mar-bloemiste in Adderleystraat was, was hy langer as 50 jaar in die blommebedryf.
Sy niggie Janine Cupido sê Marais se passie vir blomme het begin toe hy as kind smiddae ná skool met sy fiets blomme namens April Showers, ’n blommewinkel in Worcester, afgelewer het.
Marais se ma, Judy, het in daardie stadium ook vir April Showers gewerk.
Cupido sê Marais het later voltyds vir April Showers begin werk.
Ná April Showers het hy by Rosa Bloemiste aangesluit.
Volgens Cupido het Marais hierna die alleeneienaar van Ryan O-Mar-bloemiste geword nadat hy sy destydse vennoot, ene Matt, uitgekoop het.
Cupido sê haar neef se blommerangskikkings was uiters gewild onder die publiek asook plaaslike kerke en begrafnisondernemers.
Sy sê Marais was so passievol oor sy werk dat hy hom verlede jaar, toe hy in die hospitaal was, vir ’n rukkie uitgeboek het om ’n blommerangskikking vir ’n begrafnis te gaan doen.
Hy is verlede maand – op 9 Augustus – weer in die hospitaal opgeneem.
Volgens Cupido het hy nog tot die dag voordat hy weer opgeneem is, blommerangskikkings gedoen.
Marais word oorleef deur sewe kinders en 13 kleinkinders.


