Bendré Visser (28) is die afgelope naweek in ’n ongeluk op die Brandwachtpad dood.


’Bendré Visser (28), wat die afgelope naweek in ‘n motorongeluk in Worcester dood is, se gedenkdiens word Maandag (29 Augustus) gehou. Visser, ‘n geliefde en gewilde jong man van die dorp, het beheer oor sy Kia Picanto verloor en ‘n boom getref.

Hy was Saterdag 20 Augustus omstreeks 06:00 skaars 2 km van sy ouerhuis op die Brandwachtpad toe hy in die ongeluk betrokke was. Hy is deur nooddienste op die toneel dood verklaar.

AO Vathiswa Jacobs van die plaaslike polisie sê dit is vir haar hartseer dat soveel jongmense by botsings betrokke is.

“So baie mense onder die ouderdom van 30 is in motorongelukke. Soveel van hulle se lewe word geneem en dit is hartverskeurend.”

Sy sê hierdie is een van talle botsings die afgelope paar weke waarin ’n jong lewe verloor is.

Standard verneem ook van ’n motorfietsongeluk waarin ’n jong man in die industriële gebied oorlede is.

Die vorige week is daar ook op verskeie plekke botsings aangemeld. Twee groot botsings het op die N1 tussen Worcester en De Doorns plaasgevind.

Een botsing het naby die Rawsonville-afdraai op die N1 plaasgevind, ’n voertuig het naby Merwida-kelder op die Rawsonville-pad gerol en nog ’n ongeluk het op die Slanghoekpad plaasgevind.

Hierdie is benewens die botsings waaroor Standard die vorige week berig het.

Jacobs voeg by hierdie ongelukke en veral die botsing waarin Visser betrokke was, is ’n goeie aanduiding dat ’n veldtog van stapel gestuur moet word om bewusmaking te skep rondom veilige padgebruik.

“’n Ongeluk gebeur so vinnig. Ons gaan beslis iets moet doen hieraan.”

Visser se ma, Suzette, sê hulle is as gesin vreeslik hartseer oor haar seun se heengaan.

“Hy was ’n lekker mense-mens gewees. Hy het daarvan gehou om lang gesprekke te voer oor die lewe en sy dinge. Hy het met enigiemand oor die weg gekom en hy het die mooiste glimlag gehad en die styfste drukkies uitgedeel.

“Hy was baie spontaan, maar tog ’n saggeaarde mens met ’n aansteeklike glimlag.”

Sy vertel dat hy ’n vol lewe gehad het en dat hulle geleer het om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie.

“Almal sal kan getuig van sy positiwiteit. Bendré laat ’n groot leemte in baie mense se hart. Die Here het vir Bendré vroeg kom haal, maar ons glo hy het ’n doel hiermee. Ons vertrou ons Hemelse Vader se besluite en weet dat ons Bendré weer sal sien. Alles kan in ’n oogwink verander. Bennie, ons het jou bitter lief!” sê sy.

Visser, wat gewerk het by ACDC Express, se kollegas het ook sy dood betreur en ’n spesiale boodskap van medelye op sosiale media gedeel.

“Jy sal gemis word. Dankie vir wie jy was,” het ’n deel van die boodskap gelees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article