’n Bewusmakingsveldtog met betrekking tot geestesgesondheid is by die Avianpark-kliniek in Worcester gehou.

Die doel van die veldtog was nie net om die publiek verder in te lig oor geestesgesondheid nie, maar ook om die stigma en diskriminasie waaraan mense met geestesongesteldheid onderwerp word die nekslag toe te dien.

Dit is deur die Avianpark-kliniek-komitee in vennootskap met verskeie organisasies sonder winsoogmerk en staatsinstansies aangebied.

Celeste Williams van Flourish, ’n nasionale netwerk van voorgeboorte- en nageboorteklasse wat moeders gedurende die kritieke eerste 1 000 dae van hul kind se lewe ondersteun, was die koördineerder.

Die publiek wat die sessie bygewoon het, is onder meer ingelig oor sleutel-onderwerpe, waaronder die uitwerking en gevolge van dwelmgebruik op die geestesgesondheid van ’n gemeenskap en hoe diegene met gestremdhede moeilike situasies kan hanteer.

Families South Africa (Famsa) het ook mense in moeilike situasies aangemoedig om berading te kry.

Sr. Melissa Vermeulen, wat in beheer is van die kliniek, het beklemtoon mense in die gemeenskap moet ’n gebalanseerde lewe lei en alle ondersteuningsorganisasies soos die Avianpark-biblioteek gebruik om hulself met kennis te bemagtig.

“Ons moet veral ons kinders aanmoedig om te lees en op te lees oor kwessies rakende ’n gesonde leefstyl.”

Maria Oudshoorn van die Breedevallei Vereniging vir en van Mense met Gestremdhede het die publiek versoek om die vereniging te kontak indien hulle weet van mense met gestremdhede wat ondersteuning benodig omdat verskeie maatskaplike sake-eenhede bestaan wat ondersteuning aan mense met gestremdhede bied.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article