Geestesgesondheid in die Breedevallei is onlangs onder die loep geplaas.
“Wanneer dit by geestesgesondheid kom, is baie meer faktore betrokke as slegs die pasiënt se gesondheid,” sê Chris Verster van die Worcester-hospitaal, wat onlangs belanghebbendes hieroor toegespeek het.
Verster het voorbeelde uitgelig van iemand met demensie wat nie meer alleen kan woon nie, maar ook nie altyd toegang tot alternatiewe blyplek het nie.
Gesondheidswerkers meen samewerking is die sleutel om pasiënte so goed as moontlik te ondersteun.
Een van die aktiwiteite van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid in die Kaapse Wynland is om druk op geestesgesondheidsdienste te verlig deur nouer saam te werk met ander organisasies in die streek.
Deur nouer skakeling kan bepaal word watter dienste in die gemeenskap beskikbaar is en wat die pasiënt verder kan bevoordeel.
“Ons betrek deurlopend mense van ander departemente om insette te gee by ’n pasiënt se evaluering en om te bepaal wat die beste pad van behandeling is, maar ons wil hê dat selfs meer mense wat ondersteuningsdienste bied, na vore kom,” verduidelik Leilanie Phillips-Losch, ’n kliniese sielkundige van die departement.
“Wanneer almal bewus is van mekaar en mekaar se dienste, is dit makliker om gepaste ondersteuning vir pasiënte te reël.”
Verhoogde druk heers op geestesgesondheidsdienste reg oor die Wes-Kaap – veral in die Breedevallei, waar ’n hoë voorkoms van dwelm- en drankmisbruik is, wat ’n persoon se geestesgesondheid kan affekteer.
Verskeie tieners ervaar geestesgesondheidsuitdagings en hul gesinne weet nie altyd hoe hulle ondersteuning kan gee aan iemand wat sulke uitdagings ervaar nie.
Om te leer by iemand wat oor jare heen met verskeie kundiges en organisasies in sy lewe met skisofrenie te doen gekry het, het Israel Abrahams van Robertson sy storie gedeel.
Abrahams is die derde lid van sy familie by wie skisofrenie gediagnoseer is.
“Jy voel altyd deurmekaar, en jy wil jouself seermaak. Ek was net tot graad vier in die skool, want die onderwyser het gesê ek is te stadig,” het hy vertel.
Abrahams onthou hoe hy op ’n keer siek gevoel en probeer het om sy lewe te neem, en hoe ander wat nie sy toestand verstaan het nie,, hom gespot en weggejaag het.
Hy onthou die vernedering daarvan om deur die polisie na die hospitaal geneem te word wanneer hy siek geword het, en nie ’n ambulans nie. Hy is oor die jare heen verskeie kere in die hospitaal opgeneem en was selfs al in die tronk, waar gesondheidswerkers hom ondersteun het. Abrahams het sy dank uitgespreek teenoor sy ma, wat sy anker is.
Die maatskaplike werker Philbe Nieuwenhuizen verduidelik dat Abrahams vandag egter ’n voorbeeld is van iemand wat getrou sy chroniese medikasie gebruik.
Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement bedank die personeel van die Breedevallei, wat die afgelope jare verskeie hoogtepunte gelewer het:. ’n Goeie verhouding is tussen kenners by die Worcester-hospitaal en primêre gesondheidsfasiliteite gevestig, wat verwysings vergemaklik.. In samewerking met die Wes-Kaapse Departement van Onderwys is riglyne geskryf oor hoe om tieners wat selfdood oorweeg, te ondersteun.. ’n Groep maatskaplike werkers is opgelei om tekens wat aanduiding kan gee dat jongmense selfdood oorweeg, te identifiseer. Soortgelyke sessies met nog rolspelers word beplan.
Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid het ook vanjaar geregistreerde beraders aangestel om selfs meer mense toegang tot geestesgesondheidsdienste te bied.
Mense wat oor hul geestesgesondheid of dié van ’n familielid of vriend bekommerd is, kan na hul naaste kliniek gaan vir die nodige inligting en ondersteuning.





