MONTAGU – Die Montagu-polisiekantoor in samewerking met jeugafdelings- koördineerders van verskeie polisiekantore asook die Kaapse Wynland-distrik-polisiegroepskantoor het ’n jeugprojek ter afsluiting van Kinderbeskermingsweek in die Kabouterlandsaal in die Ashbury-woongebied in Montagu aangebied.
Benewens die Montagu-polisiekantoor, wat die gasheer vir die geleentheid was, het tien ander polisiekantore – Ashton, Bonnievale, Ceres, De Doorns, McGregor, Rawsonville, Robertson, Touwsrivier, Tulbagh en Worcester – ook die gebeurtenis bygewoon.
’n Groot aantal jeugdiges verbonde aan die jeugprogramme van die onderskeie polisiekantore het aan die projek deelgeneem.
Volgens konst. Esmarelda Philander, sosiale misdaadvoorkomingsbeampte en jeugafdelingkoördineerder van die Montagu-polisiekantoor, was die doel van die projek om die jeug bewus te maak van die belangrikheid van die mens se geestelike welstand.
“Ons wil jong mense aanmoedig om uit te praat oor hul geestesgesteldheid. Hulle moet weet dit is oukei om soms nie oukei te wees nie.
“Voorts was die doel ook om jeugdiges oor beskikbare hulpprogramme in te lig,” sê Philander.
’n Emosionele jongman, Stiaan Siegelaar (31), het – terwyl die trane oor sy gesig gestroom het – vertel hoe hy, toe dinge vir hom te veel geword het, verskeie kere probeer het om selfdood te pleeg.
Hy het verskeie kere probeer om homself te hang en by geleentheid selfs pille gesluk.
Volgens Siegelaar het hy hom ná sy mislukte pogings tot God gewend, waarna sy lewe handomkeer verander het.
Siegelaar is tans die jeugafdelingsvoorsitter by die Bonnievale-polisiekantoor.
Die gasspreker by die geleentheid was Paul Ebersohn, kliniese sielkundige van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand.
Onder die hooggeplaastes by die geleentheid was lt.kol. Gerrit Wewers, die stasiebevelvoerder van die Montagu- polisie, (opening en verwelkoming), kapt. Mamela-Louise Goetham, jeugafdelingskoördineer in die kantoor van die Kaapse Wynland-distrik-polisiegroep en inisieerder van die projek, en Klaas Morkel, die voorsitter van die Kaapse Wynland-distrik-gemeenskapsforum.





