Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) bevestig hy ontvang steeds klagtes deur motoriste van taxi’s wat hul parkeerruimtes in die dorp opneem.
So sê Chad Malgas, ’n munisipale woordvoerder, aan Standard & Breederivier Gazette.
Malgas sê die BVM, in samewerking met die provinsiale departement van vervoer en openbare werke en die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), het ooreengekom om die haalbaarheid van die bou van ’n nuwe taxi-staanplek by erf 23554 te ondersoek.
Malgas sê die eienaars van die eiendom aangrensend aan die betrokke erf het egter besware en dispute teen die voorgestelde ontwikkeling ingedien.
Volgens hom kan die voorgestelde ontwikkeling nie voortgaan voordat alle besware en dispute behoorlik oorweeg en opgelos is nie.
Malgas sê in hierdie stadium moet die BVM finansiering verkry om die aanvanklike beplanning en ontwerp van die projek te hersien, waarna bouwerk dienooreenkomstig geprioritiseer kan word [ook onderhewig aan die bepalings van die begroting].
Hy sê om dit te bespoedig, sal die BVM weer die departement van openbare werke en infrastruktuur en die KWDM moet betrek om te verseker dat die voorgestelde taxi-staanplek in hul onderskeie langtermyn vervoerbeplanningsraamwerke saamgevat word om begrotingstoewysings te ontsluit.
Hierdie proses, sê hy, is voortdurend.
Volgens Malgas ondersoek die BVM intussen die haalbaarheid om tydelike formaliseringsoplossings te verskaf, soos om die oppervlak van die voorgestelde terrein te teer.
Malgas sê die BVM verwerp Charl Jacobs, sekretaris van die Worcester United-taxivereniging, se eis dat dit die munisipaliteit se plig is om die huur van die vereniging se kantoor in Greystraat en die salarisse van die taxi-beamptes en -meesters te betaal.
Hy sê Artikel 67 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur reguleer alle oordragte van finansiering na organisasies en liggame buite die regering. Dit, sê Malgas, verklaar onder meer dat oordragte slegs oorweeg en uitgevoer mag word onderhewig aan die rekenpligtige beampte se tevredenheid dat die organisasie die kapasiteit het en ingestem het om enige ooreenkoms met die munisipaliteit na te kom.
Volgens Malgas is by ondersoek bevind dat geen ooreenkoms bestaan soos bepaal in terme van Artikel 67 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur soos beweer word nie.
Hy sê Jacobs en/of die Worcester United-taxivereniging is welkom om die teendeel te bewys.
Met betrekking tot die toiletgeriewe by die taxi-staanplek in Greystraat, sê Malgas dat ’n opsigter tans die betrokke ablusie-fasiliteit op ’n daaglikse basis diens.
“Indien lede van die publiek ontevrede voel met die gehalte van diens wat gelewer word, word hulle aangemoedig om dit dienooreenkomstig aan te meld vir verdere ondersoek. Daarbenewens ondersoek ons alternatiewe maniere om hierdie fasiliteite te diens.
“Nieteenstaande, vra die BVM vir die bedagsame gebruik van hierdie fasiliteit, aangesien berigte dat die fasiliteit in ’n slordige, onhigiëniese toestand gelaat word [ten spyte van die bestaande skoonmaakpogings] tesame met gereelde voorvalle van uiterste vandalisme dikwels ontvang word.”
Malgas sê in die afwesigheid van kollektiewe eienaarskap wat deur alle beskermhere en gebruikers van die fasiliteit geneem word, sal die diensverwagtinge en -standaarde nie nagekom word nie.



