Garth van West, ’n inwoner van Worcester, wat in verband met die vervaardiging, verspreiding en die besit van pornografie in hegtenis geneem is, se aansoek om borgtog is suksesvol deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) teengestaan. Sy saak is tot Woensdag 3 April vir verdere ondersoek uitgestel.
Van West (53) is Woensdag 27 Januarie in hegtenis geneem. Hy is een van vier wat in verband hiermee aangekeer is. Volgens inligting is dié vier deel van ’n internasionale sindikaat en is die inhegtenisnemings deur die polisie se reeks-en-elektroniese-misdaadondersoekeenheid in samewerking met die Amerikaanse departement van binnelandse veiligheid uitgevoer.
Van West was glo in besit van 95 000 kinderpornografiese beelde, asook 6 000 pornografiese video’s.
Twee van die ander verdagtes is dae ná Van West in hegtenis geneem. Shannon Manuel (32) is in Mitchells Plain in hegtenis geneem en Corné van Rooyen (40) in Kraaifontein.
Die vierde verdagte, Kayden Elliot (25), is eers later in Mosselbaai in hegtenis geneem.
Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder van die NVG, sê hulle gaan al die verdagtes se borgtogaansoeke teenstaan.


