Foto ter illustrasie. Foto:


Die Breedevallei-munisipaliteit het nog nie ’n nuwe tender vir die bestuur van die diereskut toegeken nie, maar beplan om dit weer te adverteer.

Die skut is voorheen toegemaak vir ontsmetting en opknappings. Die skut is op 2 Junie gesluit nadat dit op 29 Mei deur die Nasionale Raad van die Dierebeskermings­vereniging (NDBV) besoek is. Die voormalige bestuurder is ook deur die NDBV ondersoek weens vermeende dieremishandeling.

“Ná die kwarantynperiode is dit heropen en dienste is hervat,” verduidelik Hannelie Botha, ’n woordvoerder vir die Breedevallei-munisipaliteit.

Leo’s Foundation was ’n vorige diensverskaffer vir die munisipaliteit as diereskut en sedert dit verlede jaar toegemaak het, is ’n nuwe diensverskaffer nog nie aangestel nie en ’n tender is ook nog nie toegeken nie.

“In plaas daarvan het die Breedevallei-munisipaliteit ’n diensverskaffer, Sandy’s Eden, aangestel om tydelik dienste te lewer.”

Volgens Chad Malgas, ook ’n woordvoerder van die BVM, is die tender al adverteer, maar hulle het geen aansoeke daarvoor ontvang nie.

“Die BVM het in die verlede ’n tender adverteer. ‘BVM1036/2023 –verskaffing van skutbestuursdienste en bykomende funksies binne die BVM-gebied vir ’n tydperk wat op 30 Junie 2026 eindig’, is adverteer, maar niemand het daarop reageer nie.

“As gevolg hiervan en teen die agtergrond van die dringendheid van die diens, is Sandy’s Eden deur middel van ’n afwykingsproses aangestel om bogenoemde diens op ’n maand-tot-maand-basis te lewer. Die departement verwag om die tender mettertyd weer te adverteer,” verduidelik Malgas.

Die gemeenskap kan steeds gebruik maak van die Breedevallei- munisipale diereskut langs die Rawsonvillepad.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article