Austin Hendricks (losskakel) van Worcester Villagers druk ’n drie.Foto: Luciano du Toit


Saterdag (10 Junie) het groot rugby op Bolandpark tussen Worcester Villagers (Villa) en Robertson Town (Town) opgelewer toe duisende toeskouers saamgedrom het om na die wedstryd te kyk.

Villa het die stryd 38-15 verloor.

Die wedstryd het reg van die begin af reeds skouspelagtige vuurwerke opgelewer toe Town groot druk op Villa toegepas het.

Die Robertson-span het gewis die vrugte daarvan gepluk toe Yasherie Karriem (stut) oorgegaan het vir ’n drie, wat Nichol Jansen (losskakel) vir ’n 7-0-voorsprong verdoel het.

Kort hierna het Villa se losskakel, Austin Hendricks, die agterstand verkort toe hy met ’n netjiese strafskop geslaag het (telling 7-3 vir Town).

Hierna het groot drama gevolg toe die skeidsregter drie geelkaarte aan drie Villa-spelers uitgedeel het nadat hulle in ’n vurige onderonsie met Town se haker, Abdura-oef Gallie, betrokke geraak het.

Villa se kaptein, Johannes Geldenhuys (haker), is ook ’n geelkaart toegeken, wat Town aangemoedig het om sy beste te gee en drie vinnige drieë in te ryg. Net een is verdoel, wat Town ’n 24-3-voorsprong gegee het.

Town het kort voor rustyd ook twee geelkaarte gekry toe sy kaptein, Jurmaine Arendse, en die flank Freginald Africa gepos is.

Kort ná die aanvang van die tweede helfte het Villa vinnig teruggekeer en ’n sewepunter losgeslaan toe Herschelle Cupido (slot) met brute krag oorgegaan en Austin Hendricks (losskakel) met die doelskop geslaag het.

Nog twee geel kaarte is daarna aan Jovelian de Koker (buitesenter van Town), en Morné Mastriet (heelagter van Villa) uitgedeel.

Villa het wel ’n drie gekry toe Hadley Hendricks (plaasvervange-flank) ná ’n breekslag oorgegaan het vir ’n onverdoelde drie.

Dit was egter Town wat die laaste gelag het toe Hendricks ’n drie gedruk en Collin Willemse (plaasvervanger losskakel) verdoel het.

In die laaste doodsnikke het die plaasvervanger-stut Eugene Adendorff van Town ook oorgegaan vir ’n drie, wat Gurshwin Africa (skrumskakel) verdoel en die telling na 38-15 gebring het. . Saterdag (17 Junie) kom Robertson in sy laaste wedstryd op sy tuisveld teen Ashton United te staan, terwyl Worcester Villagers die Montagu Villagers in die King Edward-stadion in Montagu gaan aandurf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article