Jy kan van die eerste mense in Worcester wees wat volgende jaar pers papawers in die tuin gaan hê.
Worcester Plantjiesklub het pakkies pers-papawer-saad teen R10 ’n pakkie te koop.
Worcester Plantjiesklub het juis in herfs vanjaar hierdie pragtige pers papawers op die middelman by die De la Batweg- en Rouxweg-kruising gesaai. Dit het tot ’n paar weke gelede ’n pragtige blommeskouspel op die middelmannetjie daar gelewer.
Nou het die Plantjiesklub al daardie saadjies van die pers papawers opgegaar en in sakkies verpak wat hulle teen R10 per sakkie verkoop.
Al die geld wat die klub uit dié saadverkope inwin, sal vir sy volgende projek aangewend word – ’n beoogde rotstuin in die roostuin voor die Worcester-brandweerstasie.
Vanjaar was ’n goeie oesjaar van die pers-papawer-saad. Worcester Plantjiesklub het dus heelwat pakkies saad beskikbaar.
In volle blom maak papawers werklikwaar ’n skouspel van enige tuin. Boonop is hulle maklik om te plant.
Kan daar nou ’n meer ideale Kersgeskenk wees as om vir iemand so ’n pakkie saad te gee wat sy/haar tuin gaan omtower?
Jy kan die saadjies nou koop en hou totdat hulle volgende jaar in die herfs (April/Mei) gesaai kan word.
. Kontak die voorsitter van Worcester Plantjiesklub, Angelique Morkel, op WhatsApp by 076 619 4426 vir bestellings.




