Die De Doorns-rymkletser Garro G stel aan die einde van die maand sy eerste gospel-EP vry.
Die 24-jarige Leon Mafila, in die rymklets-gemeenskap meer bekend as Garro G, verduidelik hy wou sy dank betoon en het dit goedgedink om dit op hierdie wyse te doen. Sy EP is getiteld Deurbraak.
“2021 was ’n moeilike jaar, nie net vir my nie, maar vir die meeste mense en veral dié wat op ’n negatiewe manier deur die Covid-19-pandemie en die inperking geraak is.
“Ek wou dankie sê vir die Here omdat hy my tot dusver nog gespaar het. En ’n EP met vyf liedjies op, is my manier om dit te doen,” verduidelik hy.
Die rymkletser het al vyf liedjies self geskryf en het sy inspirasie gekry uit hoe anders dinge verlede jaar was.
“Tydens die lockdown was daar baie stil tyd, wat tot baie dinktyd gelei het. Ek toe ook begin dink dat ek ’n verskil in ander se lewe met my musiek wil maak. Ek wil ook ’n voorbeeld wees vir ander plaaslike rymkletsers wat gospelliedjies betref.”
Garro G se liefde vir rymklets en Hip Hop-musiek het al begin toe hy nog op laerskool was. Hy het egter eers op hoërskool aandag daaraan begin gee.
“Op laerskool, tydens ’n talentkompetisie, het ons hoof gesê ek is goed met rymklets. Ek het nie veel aandag daaraan gegee nie, maar toe ek op hoërskool kom, het ek ander kinders ontmoet wat net soos ek, baie lief vir dié genre was. Ek het van daar af aan my talent begin werk en het selfs al by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) opgetree.”
Die naam Garro G, volgens Mafila, is ’n voortsetting van ’n nalatenskap.
“Destyds was daar ’n rymkletser van Gqheberga met hierdie naam. Ek was gek oor hom en het vir ’n lang tyd na sy musiek geluister – soveel so dat mense my dieselfde naam begin noem het. Dié rymkletser het egter ophou musiek maak toe hy gevonnis is. Ek en hy was in kontak met mekaar en ek het hom gevra of ek die naam kan gebruik, om die legacy voort te sit, en hy het ingestem.”
Hy het ook sy eie platemaatskappy, Garro G Records, saam met ’n paar vriende begin.
Vir meer inligting oor hoe om die EP te koop, kan Garro G by 065 678 3111 op WhatsApp gekontak word.
Alternatiewelik kan hy by 076 249 5897 gebel word.
Die EP kos R50.


