Die bed wat in die struktuur was, is uitgedra en die struktuur is afgebreek. Foto: Dominique Jeftha


’n Inwoner van Hospitaalpark is omgekrap nadat die munisipaliteit ’n struktuur in sy agterplaas afgebreek het.

Pieter Stevens, wat die afgelope 22 jaar in Eichstraat 7 woon, moes op 27 Januarie hulpeloos toekyk hoe die BVM, vergesel deur die polisie, die struktuur wat in sy agterplaas opgerig is, afbreek.

Volgens Stevens het hy en sy vrou Woensdag na die munisipaliteit se kantoor gegaan om ’n aansoek in te dien sodat hulle die struktuur in hul agterplaas kan oprig.

Stevens sê toe hulle by die BVM kom, het iemand hul aansoek gevat en gesê hulle sal “binne 20 minute” ’n antwoord kry. Die 20 minute het egter twee uur geword, en hulle het steeds geen antwoord ontvang nie. Stevens-hulle het toe besluit om te loop.

Die struktuur is toe opgesit en die volgende dag het die munisipaliteit opgedaag en net begin afbreek “sonder enige rede of brief”.

“Wat my omkrap, is die manier waarop dit gedoen is. Waar is die brief wat uiteensit hoekom die struktuur afgebreek moet word?” vra Stevens. Hy wil graag weet hoekom geen dokumentasie aan hom oorhandig is nie. Hy sê sulke strukture is oral in mense se agterplase opgerig, maar die BVM daag nie by daardie mense op om dit af te breek nie.

“Hulle moet dan nou al die hokke wat agter mense se huise in die hele Worcester staan, afbreek. Ek het nog nooit gehoor dat hulle die goed in Avianpark en Riverview gaan afbreek het nie. Dit lyk my die beste is om nie dinge op die regte manier te doen nie en net te maak wat jy wil,” sê Stevens.

Stevens voer aan dat die BVM nie weet hoe om sy inwoners te behandel nie.

Die huis waarin hy woon, is munisipale eiendom.

Hy sê die munisipaliteit is vinnig om af te breek, maar as dit kom by dienslewering, wil hulle verskonings uitdink.

Standard het Donderdag navraag aan die BVM gestuur, maar het teen druktyd geen antwoord ontvang nie.

Die navraag aan die munisipaliteit lui as volg:

“Is die persoon gewaarsku dat die struktuur onwettig was en afgebreek moes word?

“Hoekom is die struktuur afgebreek?

“Van wie het die opdrag gekom?

“Gaan alle ander onwettige strukture ook verwyder word?

Die BVM verduidelik

Volgens JP Myburg, woordvoerder van die BVM, het die behuisings­afdeling Woensdagoggend 26 Januarie ’n klagte ontvang oor ’n onwettige struktuur wat by ’n munisipale huureenheid by Eichstraat 7 opgerig is. (Sien berig hiernaas. Red.)

“Die BVM se eenheid teen grondbesetting, vergesel deur twee wetstoepassers, het inspeksie gaan doen en gevind dat ’n wendyhuis opgerig word.

“Die wetstoepassers het die medehuurder ingelig dat die oprigting van ’n onwettige struktuur nie toegelaat word nie en hom aangeraai om die wendyhuis af te slaan,” verduidelik hy.

Die medehuurder het volgens Myburg die behuisingsafdeling gekontak en meegedeel dat hy ’n tydelike struktuur opgerig het om as ’n advieskantoor vir die gemeenskap gebruik te word.

“Die behuisingsafdeling het hom meegedeel dat hy nie die nodige toestemming het nie. Hy het tot 14:00 versoek om die munisipale bestuurder te nader om toestemming te vra en om Boland Wendy’s te kontak om die wendyhuis af te slaan. Daar is ooreengekom dat hy tot 14:00 sal hê.

“Die huurder het ’n brief geskryf en ingedien waarin hy toestemming by die munisipale bestuurder gevra het. Dié brief is teruggedateer na 20 Januarie 2022,” sê Myburgh.

Ná 14:00 het die munisipale amptenare weer na die adres gegaan en gevind dat die wendyhuis nie afgeslaan is nie.

Die medehuurder was egter nie by die eiendom nie, maar sy dogter en haar kêrel was teenwoordig. Hulle het die amptenare ingelig dat die wendyhuis aan hulle behoort en dat hulle dit gaan beset.

Volgens die BVM het die wetstoepassers hulle ingelig dat die gevraagde tyd verstryk het. Die amptenare het toe voortgegaan om die wendyhuis af te slaan.

Myburg noem tydens die uitvoering van hul pligte is die amptenare deur mense gedreig dat hulle hul gaan “steek en met klippe gooi” en is hulle ook natgespuit.

“Daar was onrus, die amptenare was omring, hulle het onveilig gevoel en het vir hul lewe gevrees. Hulle is opdrag gegee om terug te trek,” sê Myburg.

Die amptenare het Donderdag (27 Januarie) na Eichstraat 7 teruggekeer om hul taak om die wendyhuis af te slaan, te voltooi.

Hulle is vergesel deur vier wetstoepassers en vier polisiebeamptes.

“By hul aankoms was die medehuurder teenwoordig. Hy het vyf minute versoek om die munisipale bestuurder te bel in nog ’n poging om toestemming vir die onwettige struktuur te verkry. Die wetstoepassers het hom ingelig dat hy genoeg tyd gegun is om aan die versoek te voldoen, wat hy versuim het. Die wendyhuis is suksesvol afgeslaan. Die boumateriaal is op die eiendom gelaat,” sê Myburg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article