Die program vir komende Saterdag (Paas-Saterdag) se fynproewersrugby is bekend gemaak.
Alle paaie lei Saterdag weer na die Esselenparkstadion wanneer Worcester se vyf rugbyspanne mekaar in ’n reeks wedstryde, nou al bekend as die Easter Clash, die stryd gaan aansê.
Die hekke open reeds om 09:00 en in die eerste wedstryd van die dag om 10:00 speel Worcester Perseverance se tweede span teen ’n gekombineerde derde span bestaande uit spelers van Worcester Villagers en Young Hamiltons. Om 11:30 kom die A-span van Worcester Perseverance teen ’n gekombineerde B-span van Alberts en Primrose te staan. Om 13:00 speel Young Hamiltons se B-span teen Alberts se A-span en daarna word lekker vermaak verskaf.
Om 15:00 kom Villa se naasbestes teen Primroses se A-span te staan. Hierna volg die hoofdis van die dag om 16:30 wanneer Hammies en Villa se A-spanne mekaar gaan pak.


