Worcester se Freginal Africa is ’n bewys dat harde werk vrugte afwerp.Foto: Verskaf


Om die Springboktrui oor jou kop te trek en oorsee te gaan rugby speel is seker die droom van menige kind in Suid-Afrika. Maar dat jy oorsee kan gaan speel en ’n internasionale ervaring van rugby kan geniet, hoef nie net beskore te wees vir Springbokspelers nie.

Hierdie verblydende nuus vir jong aspirerende Bokkies word gereflekteer deur die lewensverhaal van Freginal Africa van Worcester.

Sy ma vertel dat hy as seun baie struikelblokke en weerstand moes oorbrug om sy droom na te jaag.

Gebore op Worcester was sy droom om soos sy helde Schalk Burger en Heinrich Brussouw die Groen-en-Goud oor sy skouers te trek.

Terwyl hy die droom nagejaag het, moes hy vele teenslae oorkom, asook vooroordeel en verwerping van sommige op sy reis.

Van skooldae af was Freginal, seun van skoonheidskoningin ma Zan, en fietsryer-pa Freddy, bestem om ’n sportster te wees. Rugby, atletiek krieket, stoei – noem maar op – in elk hiervan het hy met trots die swart-en-goud kleure van Boland gedra. Verder is hy ook met Wes-Kaapse kleure in atletiek en karate beloon.

Ongelooflik talentvol, maar ’n gehoorgebrek het hom gedwing na Nuwehoop-skool vir gehoorgestremdes, pleks van die gewone skool.

Wat was die struikelblokke op sy pad om sy drome te bereik?

“Ek was o. 21 by Boland Akademie in 2012. Hulle het toe 10 spelers gekies vir die Boland Kavaliers en my naam is nie uitgelees nie. Dit was ’n groot terugslag vir my, want as ’n jong man was dit my droom waarvoor ek reeds baie opgeoffer het.

“Ek het maar net besef dat dit nie my Springbok-droom gaan help as ek my sit en verknies oor elke terugslag in my lewe nie. Ek sou maar net harder moet werk vir wat ek wou hê.

“Ek het my naweke opgeoffer en vroeg opgestaan om op my eie te gaan oefen.”

Sy harde werk is beloon toe hy die jaar daarna ’n kontrak by die Kavaliers gekry het. Hierna is hy ook in die SWD Arende-span opgeneem.

Buiten sy rugbyblootstelling het hy ook die eksklusiewe ervaring gehad om as 16-jarige seun vir ses weke in Johannesburg op te tree in die televisieprogram Ups and Under.

Freginal is toe nooit vir die Springbokke gekies nie. Maar hy het wel die oog van ’n oorsese talentsoeker van UBU Colina Clinic-klub in Spanje gevang.

Dit het nuwe horisonne oopgemaak vir die fantasties talentvolle jong sportman. En toe hy hom weer kom kry, was hy in 2018 op ’n vliegtuig op pad na Burgos in Spanje, waar hy vir vier jaar semi-professionele rugby gespeel het.

Eie woonstel, maandelikse salaris in euro’s, en verder eet drink en slaap hy net rugby. Wat ’n droomlewe vir enige jong speler is dit nie!

Wat wil hy nog in rugby bereik?

“As ’n sportman sal jy altyd drome hê om in jou sport hoogtes te bereik. Ek sal graag wil terugploeg in die gemeen­skap waar ek seuns wat uit dieselfde omstan­dighede as ek kom, die bloot­stel­ling wil gee om hul drome te bereik.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article