Worcester Fotografieklub kom weer Donderdag 11 April bymekaar. Die tema vir April is “hande”.
Indien jy nie foto’s volgens die tema wil inskryf nie, kan jy in twee ander afdelings inskryf, naamlik die ope en die kreatiewe afdelings. Jy mag tot drie foto’s per afdeling inskryf, maar nie meer as vyf per maandelikse inskrywing nie.
Ongelukkig mag net lede van die klub inskryf. Lede van die publiek mag wel besoek aflê en waarneem. Foto-kyk is en kan baie interessant wees!
Onthou, lede is nie in kompetisie met mekaar nie, maar jy is wel met jouself. Lede help en leer by mekaar oor hoe jy jouself as fotograaf kan bemagtig – dit is ook die doel van elke klub-aand.
Opgeleide fotograwe wat die JAP-kursus afgelê het, beoordeel die foto’s. Dit is kundiges wat weet hoe om foto’s te benader en hoe om opbouende voorstelle vir verbetering en positiewe kommentaar te lewer.
Worcester Fotografieklub kom al vir baie jare gereeld bymekaar. Lede het gekom en gegaan, maar die klub het bly staan.
Die lekker van dié stokperdjie is dat dit jou nie wil los nie. Daar is altyd nuwe en interessante tegnieke om te leer. Dit is ook besonders as ’n paartjie die belangstelling kan deel.
Die klub kom elke tweede Donderdag van die maand by die saal van Hooggelegen-aftree-oord om 18:30 vir 19:00 bymekaar. Alle belangstellendes is welkom om dit by te woon. Die aand word nie deur beurtkrag beïnvloed nie.
Bring jou rybewys vir toegang by oord se hek en ’n beker vir koffie/tee. (Koffie en tee word voorsien.)
. Vir meer inligting kontak Lin Adshade by WhatsApp op 082 638 5624.





