Kondoomweek is ’n jaarlikse nasionale gesondheidsbewusmakingsveldtog wat ten doel het om mense te bemagtig met kennis met betrekking tot seksueel oordraagbare infeksies en die belangrikheid van kondome.
Die veldtog het in die tweede week van Februarie plaasgevind.
Die inligtingsessie is by die Avianpark-kliniek in Worcester aangebied.
Peter Titus van die regering se kommunikasie- en inligtingstelsels sê die betrokke geleentheid het ten doel om die verspreiding van seksueel oorgedraagde infeksies en MIV/vigs te verminder, om mense aan te moedig om hulle te laat toets vir seksueel oordraagbare infeksies, asook om die vrees vir stigma wat mense verhoed om hulp te soek, te verminder.
Titus se departement in vennootskap met die Avianpark-kliniek en -komitee onder die bekwame leierskap van suster Melissa Vermeulen van die Avianpark-kliniek met sleutelrolspelers wat organisasies soos Flourish, Grow Great, Fasfacts en die Breedevallei-vereniging vir mense met gestremdhede insluit, het omgesien na praktiese betrokkenheid met lede van die publiek wat die kliniek op die betrokke dag besoek het.
Douglas de Bruyn, ’n onafhanklike konsultant, het beklemtoon dat volwassenes baie versigtig moet wees met wat hulle doen en hoe hulle met kinders in die gemeenskap kommunikeer oor onderwerpe van seksuele aard.
Dit is omdat kinders sal doen en sê wat hul ouers doen.
Celeste Williams van Flourish het die gemeenskap ingelig oor voor- en nageboorteklasse wat ma’s kan bywoon en bemagtig met kennis oor sleutelonderwerpe soos onder meer ouerskap.
Maria Oudshoorn van die Breedevallei-vereniging vir mense met gestremdhede in Worcester het gesê daar is ’n duidelike verband tussen die misbruik van middels in gemeenskappe en negatiewe seksuele gedrag.
Sy sê as ’n organisasie wat op mense met gestremdhede fokus, dra alkohol- en dwelmmisbruik tot hul groot kliëntebasis by.
Zelmarie Dosmartiris, ’n berader by die Avianpark-kliniek, het inligting gedeel met betrekking tot verskeie voorbehoedmiddels asook oor alles wat vryelik beskikbaar is.
Tammy van den Heever, ’n maatskaplike werker by FasFacts, het beklemtoon dat alkohol- en dwelmmisbruik grootliks bydra tot verwaarlosing en negatiewe gedrag in die gemeenskap.
Na afloop van die inligtingsessie het belanghebbendes kondome in Avianpark by onwettigemiddels-afsetpunte en winkels versprei.



