Previn le Roux (op die dak) wys aan twee brandweerlede waar die brand heers wat Sondagmiddag laat in Riverview by die A-blok uitgebreek het.Foto: Brian Richards


’n Gesin van Riverview, wat in die A-blok woon, is Sondag laatmiddag deur ’n barmhartige Samaritaan bygestaan toe hul woonstel begin brand het.

Previn le Roux, wat in Worcester se “flêtse” oftewel Riverview, gebore en getoë is, het Sondagmiddag sy lewe gewaag om ’n baba wat in ’n brandende woonstel in dié buurt vasgekeer was, te red.

Volgens die “flêtse se held”, soos hy beskryf word, het die brand laatmiddag begin, waarna hy ’n vrou en haar baba in die woonstel gewaar het.

Volgens Le Roux het die ma uit die woonstel gekruip en dit is toe dat hy besluit het om dit in die vlamme te waag en haar baba, wat slegs ’n jaar oud is, te red.

Hy het verduidelik dat hy nie net kon sit en kyk hoe die inwoners in die vlamme sukkel nie, maar wou eerder inspring en help.

’n Baie trotse Le Roux het gesê die baba ongedeerd uit die brand gekom, asook die ma.

“Mense het geskree en die rook was baie,” het Le Roux gesê.

Nadat hy die baba gered het, het hy op die dak geklim om die vlamme, wat by die vensters uitgekom het, met ’n water wat hy in die hande gekry het, te blus.

Volgens hom is die brandweer dadelik ontbied, wat net ’n paar minute later daar opgedaag en dadelik ingespring het om te help.

Hy het met hul aankoms op die dak gebly en vir hul aanwysigings gegee oor waar die vlamme steeds heers om sodoende hul aandag daar te fokus.

Volgens Le Roux is hierdie reddingswerk “definitief iets waarmee hy sal aanhou” nadat hy ook om en by ’n jaar gelede mense in ’n ander brand in Riverview bygestaan het.

Gedurende die sowat 20 minute wat die brand gewoed het, het ’n skietery in ’n ander gedeelte van Riverview uitgebreek.

Die twee afsonderlike voorvalle blyk onverwant te wees.

AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, het die brand bevestig en gesê dit het omstreeks 16:30 uitgebreek en was teen 16:49 geblus.

Volgens Jacobs het die brand weens ’n elektriese kortsluiting ontstaan.

Die baba is vir rookinaseming behandel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article