Diana Ferrus, die bekroonde digter en aktivis van Worcester, is een van vanjaar se ontvangers van die ATKV se Prestigetoekenning, die hoogste eer wat deur die organisasie toegeken word. Ferrus is vereer vir haar bydrae tot die Afrikaanse digkuns, haar mentorskap aan jong skrywers en haar deurslaggewende rol in die repatriasie van Sarah Baartman se oorskot na Suid-Afrika.
Ferrus, wat bekendheid verwerf het met haar ikoniese gedig “I’ve Come to Take You Home”, het die gehoor diep geraak toe sy haar toekenning ontvang het. Sy het met nederigheid gesê dis ’n “voorreg en eer” om in dieselfde asem genoem te word as mede-ontvangers soos Tim du Plessis, Marida Swanepoel en Coenie de Villiers.
“Dankie dat ek ’n kykie in jul lewe kon kry,” het sy gesê.
Ferrus se werk gaan oor veel meer as poësie; dit is ’n brugbouer tussen mense en kulture. Chareldine van der Merwe, wat die commendatio vir Ferrus gelewer het, het haar geprys vir haar liefdevolle benadering, haar deernis vir mense, en haar onwrikbare toewyding tot geregtigheid en versoening.
Haar gedig oor Sarah Baartman, geskryf tydens haar studietyd aan die Universiteit van Utrecht, was nie net ’n kreatiewe uiting nie, maar ’n katalisator vir verandering. Dit het tot internasionale aandag en uiteindelik die repatriasie van Baartman se oorskot in 2002 gelei.
“Diana se woorde het ’n geskiedenis verander,” het Van der Merwe gesê.
Ferrus het met ’n tikkie humor verwys na die invloed van haar werk toe sy vertel het hoe ’n Franse politikus haar gedig beskryf het as iets wat hom “removed” laat voel.
“Ek het geweet wat hy bedoel,” het sy gesê, “en ek voel ook ‘removed’ deur hierdie erkenning.”
Die seremonie, wat in Randburg gehou is, het ook erkenning gegee aan die ongelooflike werk van ander invloedryke figure. Ferrus se nalatenskap is egter van besondere belang vir Worcester en die Breedevallei, waar haar stem steeds hoop en inspirasie bring.
Met hierdie toekenning bevestig die ATKV dat Ferrus nie net ’n digter is nie, maar ’n nasionale skat.. Inskrywings word nou ook ingewag vir die Diana Ferrus-prys vir poësieskrywers.
Die prys word aan die beste poësiebydrae toegeken, terwyl die kompetisie beoog om verskillende streekstale, onder meer Nama-Afrikaans, Khoi-Afrikaans, Kaaps en ander dialekte, te bevorder.
Die beoordelaars is Churchill Naudé, Hakkiesdraad Hartman, Ryan Pedro en Shirmoney Rhode. Die digter Anmiray Opperman is die fasiliteerder.
Landsburgers en permanente inwoners van Suid-Afrika en Namibië, ook diegene van albei lande wat oorsee woon, kan drie oorspronklike gedigte wat hulle self geskryf het en waarvan hulle alle regte het, inskryf.
Alle ingediende werke moet oorspronklike en ongepubliseerde werke wees.
Die voorgelegde werk moet binne die afdeling val waarin dit ingedien word en mag nie die voorgeskrewe woordtelling vir daardie afdeling oorskry nie.
Die Diana Ferrus-prys bied drie geldpryse in elke afdeling en vir elke streektaal aan.
Die hoofprys is R2 000, die gedig word in ’n bloemlesing gepubliseer en ’n eerbewys word toegeken, asook ’n publikasiekontrak.
Die naaswenner ontvang R1 000, die gedig word gepubliseer en ’n sertifikaat word toegeken.
Die skrywer in die derde plek ontvang R500, die gedig word gepubliseer en ’n sertifikaat word toegeken.
Daarbenewens sal die Diana Ferrus-prys blootstelling gee aan die wenners en hul werk op een of meer van sy platforms.
Deur in te skryf, stem deelnemers in om te voldoen aan die kompetisiereëls wat na goeddunke deur die Diana Ferrus-prys interpreteer en toegepas word.
Deelname aan die kompetisie, wat reeds oop is vir inskrywings, is gratis.
Die sluitingsdatum van die kompetisie is om 23:59 op 5 Januarie 2025.
Vir meer inligting hieroor besoek tinyurl.com/Diana-Ferrus-prys.





