Bekendes van die Roberston-feesmark op ’n vroeër foto. Van links is Stefné Marais, Ernst Bruwer en Marlene Zietsman. Oom Ernst is intussen oorlede. Foto:

Credit: Picasa

Kersfees kruip nader en dus is dit tyd vir die immergewilde Robertson-feesmark. En vanjaar gaan die mark nog meer besonders wees met sy 20ste verjaars­dag deel van die fees.

Die idee om ’n Kersmark te begin, het in 2003 ontstaan toe die twee orreliste van die Robertson-Oos-gemeente, Stefné Marais en Marlene Zietsman, van die suksesvolle kunshandwerkmark, “Kamers vol geskenke” gehoor het. Hulle het van die konsep gehou as ’n manier om geld in te samel vir ’n projek om die kerkorrel te laat uitbou ter wille van ’n beter klank vir die kerkgebou, wat jare gelede vergroot is om die groeiende gemeente te huisves.

Hulle het die kerkraad van die Oos-gemeente genader vir ’n lening vir die vergroting van die kerkorrel, met die belofte en onderneming dat ’n Kersmark gereël sal word om die nodige geld te help insamel. Die twee orreliste het geweet van ’n gemeentelid, Ernst Bruwer, ’n boer van De Hoop, se groot bewondering en liefde vir die orrel. Om die mark ’n hupstoot te gee, het hulle “oom Ernst” genader en ingelig wat hulle beplan en hy was dadelik bereid om te help. Sy voorwaarde was dat die gemeente moet werk om nog meer geld in te samel. ’n Groot bedrag is hierna deur oom Ernst bewillig ter herinnering aan hul seun, Pieter, wat kort tevore in ’n ongeluk oorlede is. Hy wou Pieter Bruwer vergestald sien in musiek, en wel in hul geliefde kerkorrel van die gemeente.

Die gemeente het aan die werk gespring en onder die naam “Feesmark” begin om kunstenaars, wat mooi handwerk maak, deur ’n keuringsproses te werf. Hulp van die hooforganiseerder van die Worcester-Oos-kerk se Kersmark was van onskatbare waarde. Om nie datums vir die mark te laat oorvleuel met ander gevestigde markte nie, is die Feesmark vir Oktober/November beplan en die Robertson-Oos-gemeente het met talle vrywilligers se hulp en ondersteuning aan die gang gekom

As organiseerders van dié groot projek het Stefné en Marlene iemand benodig wat die finansiële deel van die mark kon hanteer. ’n Jong Helaine Louwrens, die ma van drie klein kindertjies, het haar dienste aangebied. En so het haar reis saam met die Feesmark ’n baie lang een geraak en is sy ná 20 jaar steeds in hierdie “amp”, maar met veel meer hooi op die vurk as aan die begin. Sy is reeds die laaste ongeveer 16 jaar die hooforganiseerder en sy is die hart van die Feesmark.

Flukse vroue met kreatiewe denke het Helaine deur die jare bygestaan en die mark het toenemend van jaar tot jaar gegroei.

Elke jaar word ongeveer 110 makers van kunstige handewerk of uitsonderlike artikels gekeur om by die mark te kom uitstal.

Hulle staan kommissie af aan die kerk en dit bring vir die meeste van hulle vir die 14 dae wat die mark duur, ’n stewige inkomste asook vir die kerk, wat binne die eerste drie jaar die orrelskuld kon delg. Die Feesmark se bydrae tot die kerk se geld is standhoudend, danksy harde werk van ’n klein groepie toegewyde vroue.

Die Feesmark is ’n hoogtepunt elke jaar van middel Oktober tot begin November. Wonderlike kunstenaars kom stal uit en moet soms ver na Robertson reis. Die mark het hom bewys as een van die mooiste markte in die Wes-Kaap. Besoekers van oral – van die Karoo, die Tuinroete, die Overberg en die Weskus se dorpe – kom ondersteun die mark. Die gemeente van Robertson-Oos geniet dit om by die Feesmark bymekaar te kom, saam te werk deur dienstye te verrig, inkopies te doen of net heerlik saam te kuier in die restaurant wat keurige maaltye en lekker drinkgoed verskaf.

Mag daar nog baie geseënde jare voorlê vir hierdie mark, wat nie net ’n fees van geskenke vir kopers bied nie, maar ook met al die mooi goed “kos vir die siel” bied en kos op die tafel sit vir die talle mense wat kreatief dink en doen.. Vanjaar se Feesmark vind plaas van 20 Oktober tot 4 November.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article