’n Lid van die Fast Guns-bende in Worcester is 25 jaar tronk toe gestuur vir die moord op die 30-jarige Peter Roderick Prins in Riverview in 2017.
Die hof het die skuldige, Lyle Anthony (26), 15 jaar tronkstraf opgelê op die moordklag en nog 15 jaar vir die onwettige besit van ’n vuurwapen. Vyf jaar van die moordklag word saam met die vonnis vir die onwettige besit van ’n vuurwapen uitgedien.
Luidens die klagstaat het Prins op 15 Januarie 2017 op die hoek van die E-blok in Riverview saam met vriende bier gedrink. Sy aanvaller het op ’n fiets gery, hom van agter genader en met ’n mes gesteek.
Prins het op die toneel aan steekwonde beswyk. Sy aanvaller het ná die voorval op die vlug geslaan en is later in hegtenis geneem.
Met betrekking tot die aanklag van die onwettige besit van ’n vuurwapen het ’n lid van die publiek op 26 Januarie 2021 twee polisiebeamptes wat patrolliewerk gedoen het, ingelig dat ’n man met ’n vuurwapen in sy besit op ’n hoek in Riverview staan. Die lid van die publiek het ’n beskrywing van die betrokke man se kleredrag gegee.
Toe die man die polisie gewaar, het hy weghardloop. Die polisie het hom te voet agternagesit en tot in ’n woonstel in Riverview gevolg. In die woonstel het die polisie gesien hoe die man ’n rooi plastieksak in die badkamer wegsteek. Die polisie het die man vasgetrek, die plastieksak deurgesoek en op die vuurwapen afgekom.
Landdros Clifton Maseti het met vonnisoplegging gesê die skuldige se optrede dui op ’n duidelike verontagsaming van die wet en van menselewe.





