“Die Klong van die Worcester”, of te wel Ashley Farao, is onlangs in twee kategorieë van die Cape Town Artists Awards benoem.
Ashley het in 2020 begin om TikTok- video’s te maak en sy volgelinge het binne weke met duisende gegroei.
“Destyds het een van my vriende my aangemoedig om TikTok-video’s te maak. Daai tyd toe werk ek nog by ’n kruidenierswinkel in Hoogstraat. Ek het toe video’s begin maak oor hoe die verskillende kliënte op artikels se pryse reageer. En na nie te lank nie het ek 10 000 volgelinge op die toepassing gehad,” verduidelik Ashley, wat nou as ’n onderwysersassistent in die Strand werk.
Hy het verskeie karakters wat hy op TikTok vertolk en skryf al sy video-idees neer. Ashley was ook vir ’n tyd ’n ekstra op verskeie plaaslike televisiestelle.
“Ek het ook ’n toneelspeelkursus voltooi, want ek wou nog altyd, van kleins af, in hierdie bedryf betrokke raak.”
Kykers van sy video’s op TikTok sal welbekend wees met sy karakter Aunty Moensie en Reagan en sy ma wat hom gedurig uitskel.
“Ek kry so deur die dag idees vir waaroor my volgende video’s kan gaan, dan skryf ek dit neer. Ek is juis nou baie content waarmee ek besig is, sodat meer mense vir my kan stem in Cape Town Artists Awards.”
Hy is benoem in die TikToker of the Year en Social Media Comedian of the Year-kategorieë.
“Ek het heeltyd gewonder wanneer hulle die benoemings sou bekend maak. En verlede Saterdag toe ek wakkerskrik en op my foon kyk, was ek tot stilte geskok toe ek sien ek is benoem. Ek het letterlik die boodskap gelees en onmiddellik ’n kopseer ontwikkel.
“Ek weet nie hoe om trots te wees op myself nie. Eers ’n hele ruk later was ek soos in ‘Oh my God!’ Maar steeds nou kan ek dit nog nie regtig glo nie.”
Nou sit hy sy skouer aan die wiel sodat mense vir hom kan stem.
Terwyl hy dit doen, droom hy ook intussen daarvan om eendag sy verskyning in Arendsvlei of Suidooster te maak.
. Vir meer inligting oor hoe om vir Die Klong van die Worcester te stem besoek sy Facebook-blad Ashley Farao, of soek hom op TikTok.





